Genesis 32:22-28

Genesis 32:22-28 AFR20

In daardie nag het hy opgestaan, sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die drif van die Jabbok gegaan. Hy het hulle geneem, hulle deur die spruit laat gaan, en alles wat aan hom behoort, laat deurgaan. Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Hy het gesê: “Laat my gaan, want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën.” Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.”