Genesis 4:3-8

Genesis 4:3-8 AFR20

Ná verloop van tyd het Kain van die vrug van die grond 'n offer vir die HERE gebring. En Abel, ook hy het 'n offer gebring uit die eersgeborenes van sy kleinvee, van hulle vet. Die HERE het Abel en sy offer met guns beskou. Maar Kain en sy offer het Hy nie met guns beskou nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was terneergedruk. Die HERE vra toe vir Kain: “Waarom is jy kwaad, en waarom is jy terneergedruk? Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers.” Kain sê toe vir Abel, sy broer: “Kom ons gaan veld toe.” Toe hulle in die veld was, het Kain teen Abel, sy broer, opgestaan en hom doodgemaak.