Habakuk 1

1
Opskrif
1 Die profesie. Dit is wat Habakuk, die profeet, gesien het.
Treurlied oor verval in die samelewing
2 Hoe lank nog, Here?
Ek roep om hulp,
maar U luister nie;
ek roep uit na U, “geweld!”
maar U verlos nie?
3 Waarom laat U my onreg ervaar,
en leed, terwyl U toekyk?
Vernietiging en geweld
is reg voor my.
Twis ontstaan en rusie neem toe.
4 Daarom het die wet
sy krag verloor,
en tree die reg
glad nie meer na vore nie;
maar goddeloses
omsingel die regverdige.
Daarom is die reg so verdraaid.
5“ Kyk na die nasies en let op;
wees verslae, verstom;
want daar gaan iets
in julle dae gebeur;
julle sal dit nie glo
as dit vertel word nie!
6 Ja, kyk, Ek gaan die Galdeërs
laat optrek
– die verbitterde
en voortvarende nasie –
wat oor die breedte
van die aarde gaan
om woonplekke in besit te neem
wat nie aan hulle behoort nie.
7 Skrikwekkend, vreesaanjaend
is hierdie nasie;
van homself gaan sy reg
en oppermag uit.
8 Vinniger as luiperds is sy perde,
ratser as wolwe in die skemer.
Sy ruiters kom aangejaag,
sy ruiters wat van ver af kom.
Hulle vlieg soos arende
wat afduik om te vreet.
9Elkeen is uit op geweld;
hulle hele voorhoede
is 'n oostewind;
dit maak krygsgevangenes
bymekaar soos sand.
10 Hierdie nasie dryf
met konings die spot,
en regeerders is vir hom 'n grap.
Vir elke versterkte stad lag hy;
hy hoop grond teen
die stadsmuur op,
en neem dit in.
11 Dan gaan die wind verder
en steek grense oor;
en hy word skuldig,
die een wie se krag sy god is.”
12 Bestaan U dan nie
van altyd af nie, Here,
my God, my Heilige?
Ons gaan tog nie sterf nie?
Here, het U hom bestem
as oordeel?
O Rots, het U hom beskik
as teregwysing?
13 U wie se oë te rein is
om boosheid te aanskou,
wat nie kan toekyk
waar daar leed is nie –
waarom kyk U toe as mense
verraderlik optree;
waarom swyg U wanneer goddeloses
dié verswelg wat regverdiger is
as hulle?
14U maak mense
soos visse van die see,
soos krioelende seediere
wat nie 'n heerser het nie.
15 Met sy hoek trek hy
hulle almal uit;
hy sleep hulle uit in sy skepnet
en versamel hulle in sy fuik.
Daarom is hy bly en juig;
16 daarom offer hy vir sy skepnet
en brand hy reukwerk vir sy fuik;
want danksy sy nette
is sy deel van die buit vet
en is sy maaltyd ryk.
17 Sal hy sy skepnet so bly uitskud
en aanhou om nasies
genadeloos uit te moor?

Tans Gekies:

Habakuk 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan