Haggai 2

2
Heerlikheid van 'n nuwe tempel
1Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here gekom by monde van die profeet Haggai: 2 “Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, 3‘ Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? 4 Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die Here. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die Here. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 5 Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ”
6“ Die Here, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. 7 Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 8 ‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 9 ‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.”
Teregwysing van die volk
10Op die vier-en-twintigste dag van die negende maand, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Haggai: 11“So sê die Here, Heerser oor alle magte, ‘Vra vir die priesters 'n beslissing hieroor: 12 As iemand heilige vleis in die vou van sy kleed dra en hy raak met die vou van sy kleed aan brood of gekookte kos, of wyn of olyfolie, of enige kos, word dit dan heilig?’ ” Die priesters se antwoord was: “Nee.” 13 Haggai vra toe: “As iemand wat •onrein is deur aanraking met 'n lyk aan enige van hierdie dinge raak, is dit dan onrein?” Die priesters het geantwoord: “Dit sal onrein wees.” 14Hierop sê Haggai toe:
“Dit is hoe hierdie volk is,
ja, dit is hoe hierdie nasie voor My is,
is die uitspraak van die Here,
en ook al die werk van hulle hande:
Alles wat hulle daar offer,
is onrein.”
15“Daarom dan, neem voortaan ter harte hoe dit met julle gegaan het voordat klip op klip in die •tempel van die Here gelê is: 16 As iemand na 'n koringmied van twintig mate gegaan het, was daar maar net tien! As hy na die parskuip gegaan het om vyftig mate wyn uit die kuip te skep, was daar maar net twintig. 17 Ek het julle getref met skimmel en witroes en hael, ja, al die werk van julle hande, maar julle wou nie na My terugkeer nie, is die uitspraak van die Here.
18“ Neem ter harte hoe dit van vandag af gaan wees, van die vier-en-twintigste dag van die negende maand af, die dag waarop die fondament van die tempel van die Here gelê is; ja, neem dit ter harte. 19Is daar nog saad in die stoorkamer? Die wingerd, die vyebome, granate en olyfbome het nie eers gedra nie! Van vandag af sal Ek julle seën.”
Belofte aan Serubbabel
20Dit is die tweede woord van die Here tot Haggai op die vier-en-twintigste dag van die maand:
21“Sê vir Serubbabel,
die streekgoewerneur van Juda,
‘Ek gaan die hemel en die aarde
laat bewe.
22 Ek gaan die koninklike trone
omverwerp
en die nasies se magtige
koninkryke verwoes.
Ek gaan die strydwaens
met hulle drywers omkeer;
die perde sal neerval
en die ruiters sal mekaar
met die swaard ombring.
23 “ ‘Op daardie dag,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, ‘sal Ek jou, my dienaar, Serubbabel, seun van Sealtiël, neem,’ is die uitspraak van die Here, ‘en Ek sal jou soos 'n seëlring maak omdat Ek jou uitverkies het.’ Dit is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.”

Tans Gekies:

Haggai 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan