Jesaja 19
19
1 Profesie oor Egipte.
Kyk, die Here ry op 'n vinnig
bewegende wolk en gaan
na Egipte.
Die nuttelose afgode van Egipte
beef voor Hom;
Egipte se hart krimp ineen.
2“ Ek gaan Egiptenare
teen mekaar aanhits,
sodat elkeen teen sy familielid
sal veg en elkeen teen
sy medemens –
stad teen stad,
koninkryk teen koninkryk.
3Egipte se gees sal binne-in hom
gebreek word;
sy planne sal Ek verwar.
Hulle sal nuttelose afgode raadpleeg,
ook die geeste van afgestorwenes,
waarsêergeeste en voorvadergeeste.
4Ek sal Egipte oorgee in die hand
van 'n harde meester;
'n hardvogtige koning
sal oor hulle heers. ”
Dit is die uitspraak van die Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
5 Die water sal opraak in die see,
die rivier sal opdroog
en droog lê.
6 Die strome begin stink,
die strome van Egipte loop leeg
en droog op;
die riete en palmiete word swart,
7ook die rietbosse aan die Nyl,
by die Nylmonding.
Al die saailande langs die Nyl
verdroog en raak verwaaid,
en niks bly oor nie.
8Die vissers weeklaag en treur,
almal wat hoeke in die Nyl gooi;
hulle wat nette oor die water
uitgooi, kwyn weg.
9 Dié wat met vlas werk,
die wolkammers, staan beskaamd;
die wewers word bleek.
10Die land se wewers is verpletter;
almal wat vir 'n loon werk,
is diep terneergedruk.
11 Blote sotte is die •hoë amptenare
van Soan;
die slimste raadgewers van
die farao se raad is stompsinnig.
Hoe kan julle vir die farao sê:
“Ek is van die groep van wyses,
'n nasaat van konings
uit die verre verlede.”
12 Waar is hulle dan, jou wyses?
Laat hulle jou tog inlig!
Hulle moet mos weet
wat die Here, Heerser oor alle magte,
oor Egipte besluit het.
13Die hoë amptenare van Soan
het sotte geword;
die hoë amptenare van Nof
koester vals hoop.
Die steunpilare van die land
se stamme het Egipte laat steier.
14 Die Here het midde-in die land
'n gees van verwarring bygevoeg.
Die verwarring laat Egipte steier
in alles wat hy doen,
soos 'n dronke steier in sy braaksel.
15Vir Egipte is daar niks
wat kop of stert,
palmtak of biesie
kan doen nie.
16Op daardie dag sal Egipte wees soos vroue. Hulle sal sidder en beef vir die opgeligte hand van die Here, Heerser oor alle magte, wat Hy oor Egipte laat gaan. 17Dan sal die land Juda vir Egipte 'n verskrikking wees. Elke keer wanneer iemand die land vir hom noem, sal hy bang wees oor die besluit van die Here, Heerser oor alle magte, die besluit wat Hy oor hom geneem het.
18 Op daardie dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän praat en wat aan die Here, Heerser oor alle magte, trou sweer. Een van die stede sal Stad van Verwoesting genoem word.
19Op daardie dag sal daar 'n altaar van die Here in die middel van Egipteland wees, en op sy grens 'n gedenksteen ter ere van die Here. 20Dit sal dien as 'n teken en 'n getuienis vir die Here, Heerser oor alle magte, in Egipteland; want hulle sal die Here om hulp roep vanweë hulle verdrukkers. Dan sal Hy vir hulle 'n verlosser stuur wat die saak sal behartig en hulle red. 21 Die Here sal Hom aan die Egiptenare bekend maak, en die Egiptenare sal Hom erken op daardie dag. Hulle sal Hom dien met slagoffers en •graanoffers, en aan die Here geloftes aflê en dit nakom. 22Die Here sal Egipte tref met 'n plaag, tref én genees. Hulle sal hulle tot die Here bekeer. Hy sal hulle smeekbedes verhoor en hulle genees.
23 Op daardie dag sal daar 'n grootpad wees vanaf Egipte na Assirië. Die Assiriërs sal na Egipte gaan, en die Egiptenare na Assirië. Die Egiptenare sal saam met die Assiriërs die Here dien. 24Op daardie dag sal Israel die derde wees saam met Egipte en Assirië – 'n seën midde-in die wêreld. 25Die Here, Heerser oor alle magte, sal hulle seën deur te sê: “Geseënd is my volk Egipte, ook Assirië, my handewerk, en my eiendom, Israel.”
Tans Gekies:
Jesaja 19: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.