Jesaja 28

28
Oordeel oor Samaria
1Wee die trotse kroon
van die dronkes van Efraim!
Dit is 'n verwelkende blom,
sy pragtige sieraad
aan die bopunt
van 'n vrugbare vallei.
Wee hulle wat deur wyn
oorweldig is!
2Kyk, my Heer het iemand
wat sterk en kragtig is –
soos 'n wolkbreuk met hael,
soos 'n vernietigende storm.
Soos 'n wolkbreuk met kragtige,
verspoelende water sal hy dit
teen die grond gooi met mag.
3Dit sal met voete vertrap word –
die trotse kroon
van die dronkes van Efraim.
4Die verwelkende blom,
sy pragtige sieraad
aan die bopunt
van 'n vrugbare vallei,
sal soos een van die vallei
se vroeë vye
voor die someroes wees.
Dit is skaars in sy handpalm,
of die een wat dit raakgesien het,
sluk dit weg.
5Op daardie dag sal die Here,
Heerser oor alle magte,
'n sierlike kroon,
'n eervolle krans word
vir die oorblyfsel van sy volk.
6Hy sal 'n gees van geregtigheid
wees vir hulle wat gaan sit
vir die regspraak,
en heldekrag vir hulle
wat die geveg terugdryf
na die stadspoort.
Profesieë teen Jerusalem
7 Ook hierdie mense
slinger van wyn
en waggel van sterk drank:
Priester en profeet
slinger van sterk drank,
hulle is verwar deur wyn,
hulle waggel van sterk drank;
hulle slinger tydens 'n visioen,
hulle steier tydens 'n uitspraak.
8Ja, alle tafels is vol braaksel,
vomeersel, sonder 'n skoon plek.
9Vir wie wil hy dan kennis leer,
vir wie die boodskap verduidelik?
Vir hulle wat van melk gespeen is,
van die borste afgehaal is?
10Die boodskap is:
Saw lasaw, saw lasaw,
kaw lakaw, kaw lakaw;
'n bietjie hier, 'n bietjie daar. ”
11 Ja, deur honende lippe
en deur 'n vreemde taal
sal die Here
met hierdie volk praat –
12 Hy wat vir hulle gesê het:
“Hier is die rusplek.
Gee rus aan die een wat uitgeput is!
Hier is die verposing.”
Maar hulle wou nie luister nie.
13Daarom sal die woord
van die Here vir hulle wees:
Saw lasaw, saw lasaw,
kaw lakaw, kaw lakaw;
'n bietjie hier, 'n bietjie daar,
sodat hulle gaan
en agtertoe struikel, gebreek,
verstrik en gevang word.”
14 Daarom, hoor die woord
van die Here, julle spotters,
regeerders van hierdie volk
in Jerusalem!
15 Ja, julle sê:
“Ons het 'n verdrag
met die dood gesluit,
met die •doderyk
'n ooreenkoms aangegaan.
Wanneer die verswelgende vloed
verbykom,
sal dit ons nie bereik nie;
want ons het leuens
ons skuilplek gemaak,
en agter bedrog kruip ons weg.”
16Daarom, so sê my Heer, die Here:
“Kyk, Ek lê 'n fondamentklip
in Sion, 'n uitgesoekte klip –
'n kosbare hoeksteen
as fondament gelê.
Die een wat vertrou, hoef nie
haastig weg te gaan nie.
17 Ek maak die reg 'n maatlyn
en geregtigheid 'n skietlood.
Hael sal die skuilplek van leuens wegvee,
en water sal die wegkruipplek wegspoel.
18Julle verdrag met die dood
sal nietig verklaar word,
en julle ooreenkoms met die doderyk
sal nie standhou nie.
Wanneer 'n verswelgende vloed verbykom,
sal julle 'n vertrapte
moddermassa word.
19Telkens wanneer dit verbykom,
sal dit julle meesleur.
Ja, oggend ná oggend,
dag en nag sal dit verbykom.
Dit sal net te verskriklik wees
om die boodskap te verduidelik.
20Die bed is immers te kort
om op uit te strek,
en die kombers te smal
om jouself in toe te wikkel.”
21Ja, soos by die berg Perasim
sal die Here opstaan;
soos by die vallei in Gibeon
sal Hy bewe van ywer
om sy dade uit te voer
– vreemd is sy dade –
en om sy werk te doen –
sonderling is sy werk.
22 Moet julle dan nou nie
soos spotters gedra nie;
anders sal julle boeie
nog stywer vas wees.
Ja, ek het gehoor:
Volslae vernietiging
oor die hele land!
Dit is bepaal deur my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
23Gee aandag en luister na my stem!
Gee ag en luister na my woorde!
24Sal 'n boer die hele tyd ploeg
om te saai?
Sal hy aanhou voortjies maak
en sy grond gelyk werk?
25Sal hy nie, as hy die oppervlakte
gelyk gemaak het,
swartkomyn strooi
en komyn uitsaai,
koring in rye plant,
en gars waar dit hoort,
en spelt aan die kant nie?
26Sy God het hom
die regte manier geleer,
hom onderrig.
27Swartkomyn word tog nie
met 'n dorsplank gedors nie;
en die wiel van 'n wa
word nie oor komyn gerol nie.
Nee, swartkomyn
word met 'n stok uitgeklop,
en komyn met 'n staf.
28Broodkoring word fyngestamp –
daar word nie vir ewig aangehou
om dit uit te trap nie.
As iemand sy wawiel en perde
daaroor laat gaan,
laat hy dit tog nie fyn trap nie.
29Ook dit het sy oorsprong
by die Here, Heerser oor alle magte.
Hy voer 'n plan wonderbaarlik uit,
Hy doen dit met groot
vindingrykheid.

Tans Gekies:

Jesaja 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan