So sê die HERE,
die Koning van Israel,
die Een wat hom loskoop,
die HERE, Heerser oor alle magte:
“Ek is die Eerste,
en Ek is die Laaste.
Buiten My is daar geen God nie.
Wie is soos Ek?
Laat hy dit uitroep!
Hy moet die saak stel,
dit aan My voorlê,
aangesien Ek die oeroue volk
gevestig het.
Toekomstige gebeure
en wat daarna sou volg,
moes hulle vir die volk
aangekondig het.
Julle moet nie ontsteld wees nie,
moenie deur vrees verlam word nie.
Het Ek jou, Israel,
dit nie vantevore laat hoor,
dit aangekondig nie?
Julle is my getuies:
Is daar 'n God buiten My?
Daar is nie nog 'n rots nie.
Ek weet nie van een nie.
“Dié wat gesnede beelde vorm,
hulle almal is nietig.
Hulle geliefde maaksels
baat hulle niks nie.
Hulle getuig self oor hulle gode,
‘Hulle sien niks nie en weet niks nie,’
sodat hulle beskaamd staan.
Wie vorm 'n god,
wie giet 'n afgodsbeeld
wat hom niks baat nie?
Kyk, al sy aanhangers
staan beskaamd;
en die vakmanne,
hulle is bloot mense.
Hulle kom almal byeen,
neem hulle plekke in,
raak vreesbevange,
staan saam beskaamd.
Die ystersmid slyp sy gereedskap,
en werk met gloeiende kole.
Met hamers vorm hy iets
en bewerk dit met sy kragtige voorarm.
Hy word selfs honger
en is sonder krag;
hy drink nie water nie
en raak uitgeput.
Die skrynwerker span 'n maatlyn;
hy merk die buitelyne af
met 'n griffel.
Hy werk aan die hout
met kerfmesse,
merk in sirkels die buitelyne af.
Hy maak dit in die vorm van 'n man,
'n pragstuk van 'n mens,
om in 'n huis te woon.
Dit was vir hom nodig
om seders af te kap;
hy het 'n kroonden of 'n eik geneem,
hy het dit tussen die bome
in die bos laat groei.
Of hy het 'n sparboom geplant,
en die reën het dit laat groei.
Dit is daar vir 'n mens
om vuur mee te maak;
hy vat daarvan
en maak hom warm.
Hy kan vuur maak
en brood bak daarmee,
én 'n god maak
en daarvoor buig in aanbidding.
Hy maak daarvan 'n afgodsbeeld
en kniel daarvoor neer.
Die helfte daarvan verbrand hy
in 'n vuur;
op hierdie helfte is vleis
wat hy kan eet;
hy braai dit en word versadig.
Hy maak hom ook warm en sê,
‘A! Ek word warm;
ek sien die gloed van 'n vuur!’
En die res daarvan
verwerk hy tot 'n god,
tot sy afgodsbeeld.
Hy kniel daarvoor neer,
buig daarvoor in aanbidding,
aanbid dit en sê,
‘Red my, want u is my god!’
“Hulle besef dit nie,
hulle het nie insig nie;
want hulle oë is toegesmeer,
sodat hulle nie kan sien nie,
hulle harte,
sodat hulle nie kan begryp nie.
Hulle neem dit nie ter harte nie,
en het nie die kennis of insig
om te kan dink nie:
Die helfte daarvan
het ek in die vuur verbrand;
ek het ook op die kole daarvan
brood gebak en vleis gebraai
en dit geëet.
En wat daarvan oor is –
tot iets afstootliks maak ek dit;
voor 'n stuk hout kniel ek neer.
“So iemand bemoei hom met as;
sy hart is mislei en verlei hom.
Hy kan homself nie losruk of vra,
‘Is dit nie dalk 'n stuk bedrog
hier in my regterhand nie?’