Rigters 12

12
1Die manne van Efraim is opgeroep. Hulle het oor die Jordaan getrek na Safon en vir Jefta gesê: “Waarom het jy oorgetrek om teen die Ammoniete oorlog te maak, maar jy het ons nie opgekommandeer om saam met jou te gaan nie? Ons gaan jou huis bo jou kop afbrand.” 2Maar Jefta het hulle geantwoord: “Ek en my mense was in 'n hewige stryd gewikkel met die Ammoniete. Ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand gered nie. 3Toe ek sien dat julle ons nie gaan verlos nie, het ek my lewe in my hand geneem en oorgetrek na die Ammoniete. Die Here het hulle in my hand gegee. Waarom trek julle dan vandag op teen my om teen my oorlog te voer?”
4Jefta het toe al die manne van Gilead byeengebring en hulle het teen Efraim oorlog gevoer. Die manne van Gilead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: “Julle is vlugtelinge uit Efraim; Gilead hoort by Efraim en by Manasse.”
5Gilead het die driwwe van die Jordaan na Efraim beset. Wanneer een van die vlugtelinge van Efraim dan sê, “Ek wil oorgaan,” sê die manne van Gilead vir hom: “Is jy 'n Efraimiet? ” As hy sê, “Nee,” 6dan sê hulle vir hom: “Sê bietjie ‘sjibbolet.’ ” En as hy sê “sibbolet,” en nie daarop bedag is om dit reg uit te spreek nie, dan het hulle hom gegryp en hom keelaf gesny by die driwwe van die Jordaan. In dié tyd het daar twee-en-veertigduisend man uit Efraim geval.
7Jefta het Israel ses jaar lank gerig. Jefta, die man uit Gilead, het gesterf, en is begrawe in sy dorp in Gilead.
Ibsan, Elon en Abdon
8Ná Jefta het Ibsan, uit Betlehem, Israel gerig. 9Hy het dertig seuns en dertig dogters gehad. Die dogters het hy in die huwelik afgegee buite die familiegroep; vir sy seuns het hy meisies van buite die familiegroep ingebring. Hy het Israel sewe jaar lank gerig. 10Ibsan het gesterf en is in Betlehem begrawe.
11Ná hom het Elon, 'n man uit Sebulon, Israel gerig. Hy het Israel tien jaar lank gerig. 12Elon, die man uit Sebulon, het gesterf en is begrawe in Ajalon, op die grondgebied van Sebulon.
13Ná hom het Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, Israel gerig. 14 Hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig donkiehingste gery het. Hy het Israel agt jaar lank gerig. 15Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, het gesterf en is begrawe in Piraton, in die grondgebied van Efraim, in die bergland van die Amalekiete.

Tans Gekies:

Rigters 12: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan