Jeremia 1:4-19

Jeremia 1:4-19 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem. ” Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die HERE, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog 'n kind. ” Maar die HERE het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog 'n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die HERE. Die HERE het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die HERE het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. “Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.” Die woord van die HERE het tot my gekom: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien die tak van 'n amandelboom.” Toe sê die HERE vir my: “Jy het goed gekyk, want Ek is bedag daarop om my woord uit te voer. ” Die woord van die HERE het 'n tweede keer tot my gekom: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek sien 'n stomende pot – sy inhoud kook van die noordekant af oor. ” Toe sê die HERE vir my: “Uit die noorde sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land. Want kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die koninkryke in die noorde oproep,” is die uitspraak van die HERE, “en hulle sal kom en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van Jerusalem se poorte, en by al haar stadsmure reg rondom, en by al die dorpe van Juda. Ek sal my oordele oor hulle uitspreek weens al hulle boosheid – omdat hulle My verlaat het, vir ander gode offers verbrand het en voor hulle handewerk in aanbidding gebuig het. Maar jy, jy moet jou heupe omgord, gereedmaak en vir hulle alles gaan sê wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou 'n rede om vir hulle bang te wees. En Ek, kyk, Ek maak jou vandag 'n versterkte stad, 'n ysterpilaar en 'n koperstadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou,” is die uitspraak van die HERE, “om jou te red!”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Jeremia 1:4-19