Jeremia 24:1-8

Jeremia 24:1-8 AFR20

Die HERE het my laat sien: Kyk, daar is twee mandjies met vye neergesit voor die •tempel van die HERE. Dit was nadat Nebukadresar, die koning van Babilonië, Jegonja, seun van Jojakim, die koning van Juda, die •hoë amptenare van Juda, die ambagsmanne en metaalwerkers uit Jerusalem in ballingskap weggevoer en hulle na Babel geneem het. Die een mandjie het baie goeie vye in gehad, soos vroeë vye; maar in die ander mandjie was baie slegte vye, wat nie meer geëet kon word nie omdat dit sleg was. Die HERE het vir my gevra: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Vye – die goeie vye is baie goed en die slegtes baie sleg; dit kan nie meer geëet word nie omdat dit sleg is.” Toe het die woord van die HERE tot my gekom: “ So sê die HERE, die God van Israel, ‘Soos met hierdie goeie vye, so sal Ek die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek weggestuur het na die land van die Galdeërs, as goed beskou. Ek sal my oog welwillend oor hulle hou en hulle laat terugkeer na hierdie land. Ek sal hulle bou en nie afbreek nie; Ek sal hulle plant en nie uitruk nie. Ek sal aan hulle harte gee om My te ken, dat Ek die HERE is. Hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees; want hulle sal na My terugkeer met hulle hele hart. “ ‘Maar soos die slegte vye wat nie meer geëet kan word nie omdat dit sleg is,’ ja, so sê die HERE, ‘net so sal Ek maak met Sedekia, die koning van Juda, sy hoë amptenare en die res van Jerusalem, met hulle wat oorgebly het in hierdie land en hulle wat in Egipteland woon.