Jeremia 31:31-37

Jeremia 31:31-37 AFR20

“ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die HERE. “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die HERE: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die HERE. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” So sê die HERE, wat die son bedags as 'n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die HERE, Heerser oor alle magte is sy naam: “As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die HERE, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd 'n nasie te wees voor My.” So sê die HERE, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het,” is die uitspraak van die HERE.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Jeremia 31:31-37