JEREMIA 31:31-37

JEREMIA 31:31-37 Die Boodskap (DB)

Die Here sê: “Die dag sal kom dat Ek ’n nuwe ooreenkoms met Israel en Juda sal maak. Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie. Maar so sal die nuwe ooreenkoms lyk wat Ek later met Israel sal maak: Ek sal dit wat Ek van hulle verwag, in hulle gedagtes plant. Hulle sal in hulle hart weet wat Ek van hulle verwag. Dan sal Ek hulle God wees en hulle sal my eie mense wees. Dit sal nie vir hulle nodig wees om hulle bure of familie te leer en vir hulle te sê: ‘Lewe naby aan die Here dat julle Hom kan ken’ nie. Almal, klein en groot, sal reeds hierdie naby kennis van My hê,” sê die Here. “Hulle sal weet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. En Ek sal al die slegte goed vergewe wat hulle gedoen het. Ek sal nooit eens weer dink aan die verkeerde goed wat hulle gedoen het nie.” Dit is die Here wat die son gee sodat daar daglig is. Hy gee ook die maan en die sterre om in die nag lig te maak. Dit is ook Hy wat die see laat beweeg om golwe te maak. Sy Naam is die Here. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: “Net so min as wat Ek hierdie natuurwette sal laat ophou werk, net so min is die kans dat Ek Israel ooit sal verwerp. Die hemel kan eintlik nie gemeet word nie. En die fondasie van die aarde kan eintlik nie ondersoek word nie. Net so min as wat dit gedoen kan word, net so min sal Ek daaraan dink om die mense van Israel weg te gooi oor die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Dit is wat die Here sê!

JEREMIA 31:31-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die HERE. “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die HERE. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. Dit sal nie vir hulle nodig wees om vir hulle bure of familie te sê: ‘Ken die HERE, leef soos die HERE van julle verwag,’ nie. Almal, van die geringste tot die belangrikste, sal My reeds ken,” sê die HERE. “Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.” Dit is wat die HERE sê, Hy wat die son gemaak het om in die dag te skyn, en die maan en die sterre om in die nag lig te maak. Dit is Hy wat die see onstuimig laat word om golwe te maak. Sy Naam is die HERE, die Almagtige, en Hy sê: “So min as wat Ek hierdie natuurwette sal verwyder, net so min sal die nageslag van Israel ooit ophou om my volk te wees!” Die HERE sê: “Net soos die hemele nie gemeet kan word, of die fondasie van die aarde ondersoek kan word nie, net so min sal Ek daaraan dink om die nageslag van Israel vir altyd weg te gooi vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Dit is wat die HERE sê!

JEREMIA 31:31-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ ‘Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het die dag toe Ek hulle aan die hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle self verbreek het, al was Ek Heer oor hulle,” is die uitspraak van die HERE. “Nee, dít is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die HERE: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die HERE. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.” So sê die HERE, wat die son bedags as 'n lig gee, die vaste voorskrifte vir die maan en sterre as ligte snags, Hy wat die see in beweging bring, sodat sy golwe dreun; die HERE, Heerser oor alle magte is sy naam: “As hierdie vaste voorskrifte voor My verdwyn,” is die uitspraak van die HERE, “sal ook die nageslag van Israel ophou om vir altyd 'n nasie te wees voor My.” So sê die HERE, “As die hemelruim daar bo gemeet kan word, en die fondamente van die aarde daar onder vasgestel kan word, sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp oor alles wat hulle gedoen het,” is die uitspraak van die HERE.