Jeremia 34

34
Waarskuwing aan Sedekia
1 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het terwyl Nebukadresar, die koning van Babilonië, met sy hele leër, saam met al die koninkryke van die wêreld wat onder sy heerskappy was, en al die ander volke, teen Jerusalem en al haar dorpe oorlog gemaak het: 2“So sê die Here, die God van Israel: Gaan praat met Sedekia, koning van Juda, en sê vir hom, ‘So sê die Here: “Kyk, Ek gaan hierdie stad oorgee in die hand van die koning van Babilonië, en hy sal dit afbrand. 3 En jy, jy sal nie uit sy hand vrykom nie; want jy sal beslis gevange geneem en in sy hand oorgegee word. Jy sal die koning van Babilonië in die oë moet kyk en van aangesig tot aangesig met hom moet praat; en jy sal na Babel toe gaan.”
4“ ‘Maar hoor die woord van die Here, Sedekia, koning van Juda! So sê die Here oor jou: “Jy sal nie deur die swaard sterf nie; 5 in vrede sal jy sterf. En net soos met die dodevure vir jou voorvaders, die vorige konings wat voor jou daar was, so sal hulle vir jou ook 'n dodevuur brand, en oor jou rou met ‘Helaas, heer!’ Ja, dit is 'n woord wat Ek self uitgespreek het.” ’ ” Dit is die uitspraak van die Here.
6Die profeet Jeremia het toe al hierdie woorde vir Sedekia, koning van Juda, in Jerusalem gesê 7 terwyl die leër van die koning van Babilonië besig was om oorlog te voer teen Jerusalem en al die stede van Juda wat oorgebly het, teen Lagis en Aseka; dit was immers die enigste versterkte stede wat oorgebly het van al die stede in Juda.
Vrylating van slawe
8Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het nadat koning Sedekia 'n verbond gesluit het met die hele volk wat in Jerusalem was, om vir hulle vrylating aan te kondig, 9 dat elkeen sy slaaf en elkeen sy slavin, Hebreeuse mans en vroue, as vry mense moes wegstuur, sodat niemand hulle – die Judeërs en hulle volksgenote – as slawe sou aanhou nie. 10Al die •hoë amptenare en die hele volk wat tot die verbond toegetree het, het daaraan gehoor gegee om elkeen sy slaaf en slavin as vry mense te laat weggaan, om hulle nie langer as slawe aan te hou nie. Hulle het gehoor gegee en hulle toe laat gaan. 11Maar daarna het hulle die slawe en slavinne wat hulle as vry mense laat gaan het, laat terugkom en hulle weer as slawe en slavinne onderwerp.
12Die woord van die Here wat toe van die Here tot Jeremia gekom het, was: 13“So sê die Here, die God van Israel, ‘Ek self het met julle voorouers 'n verbond gesluit op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het, met die woorde: 14“ Aan die einde van sewe jaar moet julle elkeen sy volksgenoot, die Hebreër wat hom as skuldslaaf aan jou verkoop en jou ses jaar lank gedien het, laat gaan. Jy moet hom as 'n vry man van jou af laat weggaan.” Maar julle voorouers het nie na My geluister nie en nie gehoor gegee nie. 15 Julle het egter onlangs tot inkeer gekom en gedoen wat reg is in my oë deur elkeen vrylating aan te kondig vir sy medemens. Julle het voor My 'n verbond gesluit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is. 16 Maar julle het omgedraai en my Naam ontheilig; julle het elkeen sy slaaf en slavin wat julle as vry mense laat gaan het waarheen hulle wou, laat terugkom. Julle het hulle onderwerp om weer julle slawe en slavinne te word.’
17“ Daarom, so sê die Here, ‘Julle het nie na My geluister deur elkeen vrylating aan te kondig vir sy volksgenoot en medemens nie. Kyk, Ek gaan dan vir julle vrylating afkondig,’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘maar julle sal vrygelaat wees aan die swaard, aan pessiekte en hongersnood. Ek gaan van julle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde. 18Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat nie die woorde van die verbond wat hulle voor My gesluit het, gestand gedoen het nie, die kalf maak wat hulle in twee gesny en toe tussen die stukke deurbeweeg het. 19Die hoë amptenare van Juda, die hoë amptenare van Jerusalem, die eunugs, die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgeloop het – 20 hulle sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van dié wat hulle lewens soek. Hulle lyke sal voedsel wees vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde.
21“ ‘ Sedekia, koning van Juda en sy hoë amptenare sal Ek in die hand van hulle vyande oorgee en in die hand van dié wat hulle lewens soek – in die mag van die leër van die koning van Babilonië, wat besig is om van julle af weg te trek. 22 Kyk, Ek gee bevel,’ ” is die uitspraak van die Here, “ ‘en Ek sal hulle na hierdie stad laat terugkeer, en hulle sal daarteen oorlog voer, dit inneem en dit afbrand. Die dorpe van Juda sal Ek 'n woesteny maak, sonder inwoners.’ ”

Tans Gekies:

Jeremia 34: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan