Al die bevelvoerders van die leërafdelings en Joganan, seun van Kareag, asook Jesanja, seun van Hosaja, en die hele volk, klein en groot, het nader gegaan en vir die profeet Jeremia gesê: “Laat ons smeekbede asseblief voor u neergelê word, en bid vir ons tot die HERE u God, vir hierdie hele oorblyfsel, want ons het as 'n klein klompie oorgebly uit baie, soos u ons met u eie oë hier sien. Laat die HERE u God aan ons bekend maak die pad waarop ons moet gaan, en wat ons te doen staan.” Die profeet Jeremia het toe vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Kyk, ek gaan tot die HERE julle God bid, soos julle versoek, en ek sal elke woord wat die HERE julle antwoord, aan julle bekend maak. Ek sal niks van julle weerhou nie.” En hulle, hulle sê toe vir Jeremia: “Mag die HERE 'n ware en betroubare getuie teen ons wees as ons nie presies optree volgens elke woord waarmee die HERE u God u na ons stuur nie! Of dit nou goed of sleg is, na die stem van die HERE ons God, na wie ons u stuur, sal ons luister, sodat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die HERE ons God.”
Ná tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom. Hy het Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, en ook die hele volk, klein en groot, geroep en vir hulle gesê: “So sê die HERE, die God van Israel na wie julle my gestuur het om julle smeekbede voor Hom neer te lê, ‘ As julle inderdaad in hierdie land bly, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie; Ek sal julle plant en nie uitruk nie, want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Moenie bang wees vir die koning van Babilonië, vir wie julle so bevrees is nie! Moenie vir hom bang wees nie,’ is die uitspraak van die HERE, ‘want Ek is by julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. Ek sal aan julle barmhartigheid bewys, sodat ook hy julle barmhartig sal wees en julle na julle grond sal laat terugkeer.