JEREMIA 42:1-12

JEREMIA 42:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Al die offisiere en Joganan en Jesanja seun van Hosaja en al die ander mense, onbelangrike en belangrike mense, het na die profeet Jeremia toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Ons vra asseblief, jy moet vir ons bid tot jou God die Here, bid vir ons wat nog lewe. Ons was baie mense, maar jy kan sien ons is nou min. Jou God die Here moet vir ons sê waarnatoe ons moet gaan en wat ons moet doen.” Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor wat julle vra. Goed, ek sal dit vra vir julle God die Here en ek sal vir julle alles sê wat die Here vir julle antwoord, ek sal alles sê wat Hy sê.” Húlle antwoord toe vir Jeremia en sê: “Die Here moet die getuie wees. Hy hoor wat ons sê, en Hy sal doen wat Hy sê. As Hy jou na ons toe stuur en ons doen nie alles wat Hy sê nie, dan moet Hy ons straf. Ons het jou gestuur na ons God die Here toe en ons sal doen wat Hy sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie. Ons weet dit sal goed gaan met ons as ons doen wat ons God die Here sê.” Tien dae later het Jeremia gehoor die Here praat met hom. Hy het na Joganan toe gegaan en na al die offisiere wat by hom was, en hy het al die mense geroep, die onbelangrike en die belangrike mense. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my gestuur na die Here toe, die God van Israel, om vir Hom te sê wat julle vra. Die Here sê: As julle aanhou woon in hierdie land, dan sal Ek julle bou, Ek sal julle nie afbreek nie. Ek sal julle plant, Ek sal julle nie uitruk nie, want Ek is jammer dat Ek julle laat swaarkry het. Julle moenie bang wees vir die koning van Babel nie, julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle om julle te red en julle vry te maak van hom. Ek sal genadig wees vir julle, en dan sal hy vir julle genadig wees en julle terugbring na julle land.

JEREMIA 42:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot, en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel — want ons het as 'n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien — dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen. En die profeet Jeremia het hulle geantwoord: Ek hoor; kyk, ek sal tot die HERE julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die HERE julle antwoord, sal ek julle bekend maak; ek sal vir julle niks agterhou nie. Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die HERE 'n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die HERE u God u na ons sal stuur nie. Laat dit goed of sleg wees — ons sal luister na die stem van die HERE onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die HERE onse God. En aan die einde van tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom, en hy het Jóhanan, die seun van Karéag, geroep en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, klein en groot, en aan hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel, na wie julle my gestuur het om julle smeking eerbiediglik voor sy aangesig te bring: As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. En Ek sal julle barmhartigheid bewys, sodat hy hom oor julle sal ontferm en julle terugbring na julle land toe.

JEREMIA 42:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Al die leëraanvoerders, Joganan seun van Kareag, Asarja seun van Hosaja, al die mense, klein en groot, het na die profeet Jeremia toe gekom en vir hom gevra: “Doen tog asseblief wat ons vra, bid vir ons tot die Here jou God, vir ons almal wat oorgebly het. Soos jy ons hier sien, is ons die klompie wat oor is uit baie. Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen.” Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Ek sal tot die Here julle God bid soos julle gevra het. Ek sal alles wat die Here vir julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.” Hulle sê toe vir Jeremia: “Die Here self sal die betroubare en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie alles doen wat die Here jou God jou opdra om vir ons te sê nie. Of dit nou goed of sleg vir ons is, ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God na wie toe ons jou stuur, sodat dit met ons goed sal gaan. Ons sal gehoorsaam wees aan die Here ons God.” Tien dae later het die woord van die Here tot Jeremia gekom. Hy het Joganan seun van Kareag, al die leëraanvoerders by hom en al die ander mense, klein en groot, geroep en vir hulle gesê: So sê die Here die God van Israel na wie toe julle my gestuur het om julle versoek aan Hom voor te lê: As julle in hierdie land bly, sal Ek julle bou en julle nie plat slaan nie, julle vestig en julle nie afbreek nie. Ek sal die ramp wat Ek oor julle gebring het, nie verder voer nie. Moenie so bang wees vir die koning van Babel nie, moenie vir hom bang wees nie, sê die Here, want Ek is by julle om julle te red en julle uit sy mag te bevry. Ek sal julle genadig wees, en daarom sal hy julle genadig wees en julle na julle land toe laat teruggaan.

JEREMIA 42:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Al die bevelvoerders van die leërafdelings en Joganan, seun van Kareag, asook Jesanja, seun van Hosaja, en die hele volk, klein en groot, het nader gegaan en vir die profeet Jeremia gesê: “Laat ons smeekbede asseblief voor u neergelê word, en bid vir ons tot die HERE u God, vir hierdie hele oorblyfsel, want ons het as 'n klein klompie oorgebly uit baie, soos u ons met u eie oë hier sien. Laat die HERE u God aan ons bekend maak die pad waarop ons moet gaan, en wat ons te doen staan.” Die profeet Jeremia het toe vir hulle gesê: “Ek het gehoor. Kyk, ek gaan tot die HERE julle God bid, soos julle versoek, en ek sal elke woord wat die HERE julle antwoord, aan julle bekend maak. Ek sal niks van julle weerhou nie.” En hulle, hulle sê toe vir Jeremia: “Mag die HERE 'n ware en betroubare getuie teen ons wees as ons nie presies optree volgens elke woord waarmee die HERE u God u na ons stuur nie! Of dit nou goed of sleg is, na die stem van die HERE ons God, na wie ons u stuur, sal ons luister, sodat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die HERE ons God.” Ná tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom. Hy het Joganan, seun van Kareag, en al die bevelvoerders van die leërafdelings wat by hom was, en ook die hele volk, klein en groot, geroep en vir hulle gesê: “So sê die HERE, die God van Israel na wie julle my gestuur het om julle smeekbede voor Hom neer te lê, ‘ As julle inderdaad in hierdie land bly, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie; Ek sal julle plant en nie uitruk nie, want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Moenie bang wees vir die koning van Babilonië, vir wie julle so bevrees is nie! Moenie vir hom bang wees nie,’ is die uitspraak van die HERE, ‘want Ek is by julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. Ek sal aan julle barmhartigheid bewys, sodat ook hy julle barmhartig sal wees en julle na julle grond sal laat terugkeer.

JEREMIA 42:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe het al die owerstes van die leërs nader gekom en Jóhanan, die seun van Kareag, en Jisanja, die seun van Hosaja, en die hele volk, van die kleinste tot die grootste, En hy het aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog welgevallig wees voor u aangesig, en bid vir ons tot die HERE u God, ook vir hierdie hele oorblyfsel; (want ons het maar min oorgebly van baie, soos u oë ons aanskou:) Sodat die HERE jou God ons die weg kan wys wat ons kan bewandel en wat ons kan doen. Toe sê die profeet Jeremia vir hulle: Ek het julle gehoor; kyk, ek sal tot die HERE julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die HERE julle antwoord, sal Ek julle verkondig; Ek sal niks van jou terughou nie. Toe sê hulle vir Jeremia: Die HERE moet 'n waaragtige en getroue getuie tussen ons wees as ons nie doen volgens alles waarvoor die HERE jou God jou na ons toe sal stuur nie. Of dit goed of sleg is, ons sal luister na die stem van die HERE onse God na wie ons jou stuur; sodat dit met ons goed kan gaan as ons na die stem van die HERE onse God luister. En ná tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom. Toe het hy Johanan, die seun van Kareag, geroep, en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, van klein tot groot, En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel, na wie julle My gestuur het om julle smeking voor Hom te bring; As julle nog in hierdie land wil bly, dan sal Ek julle bou en julle nie afbreek nie, en Ek sal julle plant en julle nie uitruk nie; want Ek het berou oor die kwaad wat Ek julle aangedoen het. Wees nie bevrees vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; Wees nie bevrees vir hom nie, spreek die HERE, want Ek is met jou om jou te verlos en jou uit sy hand te red. En Ek sal barmhartigheid aan jou bewys, dat hy hom oor jou kan ontferm en jou na jou land laat terugkeer.

JEREMIA 42:1-12 Die Boodskap (DB)

’n Groot klomp mense het na Jeremia toe gekom omdat hy ’n profeet van die Here was. Onder hulle was al die offisiere van die weermag, maar ook Joganan die seun van Kareag en Asarja die seun van Hosaja. By hulle was daar ook nog mense uit elke vlak van die samelewing. Hulle het vir Jeremia gevra: “Luister asseblief na wat ons vra en praat dan namens ons met die Here wat jou God is. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die sterk volk wat ons eens was. Vra die Here jou God mooi om ons te wys wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.” Jeremia het hulle geantwoord en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal met die Here wat julle God is, praat oor wat julle graag wil weet. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord vir julle is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.” Hulle het vir Jeremia gesê: “Ons roep die Here self as ’n getuie teen ons as ons nie doen wat Hy vir ons sê om te doen nie. Hy is eerlik en sal die waarheid praat. Of ons nou daarvan hou of nie, ons sal die Here ons God gehoorsaam. Dit was tog ons idee om jou na Hom te stuur om raad te vra. Dit sal goed met ons gaan as ons aan Hom gehoorsaam is en doen wat Hy sê.” Na tien dae het die Here vir Jeremia ’n antwoord gegee. Jeremia het toe vir Joganan en die offisiere en ook die gewone mense laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die Here wat die God van Israel is, gestuur om raad te vra. Hier is sy antwoord: Julle moet hier in die land bly. As julle dit doen, sal Ek opbouend met julle werk. Ek sal nie dat dit met julle sleg gaan nie. Soos ’n boom sal Ek julle plant dat julle kan vestig en groei. Ek sal nie met julle maak soos ’n mens met ’n plant maak wat jy wil uitroei nie. So ’n plant trek ’n mens wortel en al uit die grond uit. Ek is jammer oor al die slegte dinge wat julle moes deurgaan. Moenie bang wees vir die koning van Babel nie. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle. Ek sal sorg dat hy nie langer oor julle baasspeel nie. Omdat Ek vir julle omgee, sal Ek die koning van Babel se hart sag maak. As dit gebeur, sal hy julle in julle land laat bly.

JEREMIA 42:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Al die weermagoffisiere, ook Joganan seun van Kareag en Asarja seun van Hosaja, asook nog mense uit elke vlak van die samelewing het gekom en vir die profeet Jeremia gesê: “Bid ernstig en tree vir ons in by die HERE jou God. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die volk wat ons eers was. Vra die HERE jou God wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.” Hierop het Jeremia gereageer en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal tot die HERE julle God bid, soos julle versoek. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.” Hulle het vir Jeremia gesê: “Mag die HERE ’n betroubare getuie teen ons wees as ons weier om te doen wat die HERE u God u gestuur het om aan ons oor te dra. Of dit nou goed of sleg is, ons sal die HERE ons God gehoorsaam. Ons het jou na Hom gestuur om raad te vra. Dit sal met ons goed gaan as ons Hom gehoorsaam en doen wat Hy sê.” Na tien dae het die HERE vir Jeremia ’n antwoord gegee. Jeremia het Joganan seun van Kareag, die weermagoffisiere en ook die gewone mense uit alle vlakke van die samelewing laat roep. Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die HERE, die God van Israel gestuur om julle versoek voor Hom te stel. Die HERE sê: ‘Bly hier in die land. As julle dit doen, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie. Ek sal julle plant en nie ontwortel nie. Ek is jammer oor al die ellende wat Ek julle moes aandoen. Moenie langer vir die koning van Babel bang wees nie, sê die HERE. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle teenwoordig. Ek sal julle van sy oorheersing vrymaak. Ek sal meegevoel hê met julle sodat hy ook meegevoel met julle sal hê. Dan sal hy julle in julle land laat bly.’