JEREMIA 42:1-12

JEREMIA 42:1-12 AFR53

TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot, en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel — want ons het as 'n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien — dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen. En die profeet Jeremia het hulle geantwoord: Ek hoor; kyk, ek sal tot die HERE julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die HERE julle antwoord, sal ek julle bekend maak; ek sal vir julle niks agterhou nie. Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die HERE 'n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die HERE u God u na ons sal stuur nie. Laat dit goed of sleg wees — ons sal luister na die stem van die HERE onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die HERE onse God. En aan die einde van tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom, en hy het Jóhanan, die seun van Karéag, geroep en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, klein en groot, en aan hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel, na wie julle my gestuur het om julle smeking eerbiediglik voor sy aangesig te bring: As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het. Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red. En Ek sal julle barmhartigheid bewys, sodat hy hom oor julle sal ontferm en julle terugbring na julle land toe.