Jeremia 50

50
Profesieë oor Babilonië
1 Dit is die woord wat die Here deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Galdeërs:
2“Maak dit bekend onder die nasies;
laat hulle dit hoor!
Hou 'n banier omhoog;
laat hulle dit hoor!
Moet dit nie wegsteek nie!
Julle moet sê,
‘Babel is ingeneem!
Bel staan beskaamd,
Marduk staan verslae.
Babel se afgode staan beskaamd,
haar afgodsbeelde staan verslae.’
3 Want 'n nasie trek teen haar op uit die noorde,
hy sal haar land 'n woesteny maak;
daar sal geen inwoner in haar wees nie.
Mense sowel as diere swerf rond,
hulle trek weg.
4 “In daardie dae en in daardie tyd,”
is die uitspraak van die Here,
“sal die Israeliete kom,
hulle en die Judeërs saam.
Terwyl hulle loop en huil,
sal hulle die Here hulle God soek.
5Na Sion sal hulle die pad vra,
met hulle gesigte daarheen gedraai.
Hulle sal kom en hulleself verbind
aan die Here
met 'n ewige verbond
wat nie vergeet sal word nie.
6 Verlore kleinvee was my volk;
hulle herders het hulle laat afdwaal,
hulle op die berge laat verdwaal.
Van berg na heuwel het hulle gegaan,
hulle het hulle rusplek vergeet.
7 Almal wat hulle raakgeloop het,
het hulle verslind;
en hulle vyande het gesê,
‘Ons is nie skuldig nie,
aangesien hulle teen die Here gesondig het,
teen Hom, die ware tuiste,
die hoop van hulle voorouers,
die Here.’
8“ Vlug uit Babel!
Gaan weg uit die land van die Galdeërs!
Wees soos bokramme voor die kleinvee!
9Want kyk, Ek maak hulle wakker
en laat hulle teen Babel optrek –
'n bondgenootskap van groot nasies
uit 'n land in die noorde.
Hulle sal gevegslinies teen haar opstel,
van daardie kant af
sal sy ingeneem word.
Hulle pyle is soos dié van 'n held
wat sukses behaal;
hy keer nie met leë hande terug nie.
10Galdeë sal oorlogsbuit word,
al sy buitmakers sal versadig word,”
is die uitspraak van die Here.
11“Ja, wees maar vrolik,
wees maar uitgelate,
plunderaars van my erfenis!
Ja, bokspring maar soos 'n verskalf in groen gras,
runnik maar soos hingste!
12Julle moeder sal erg beskaamd staan;
sy wat julle in die wêreld gebring het,
sal verleë wees.
Kyk, sy is die geringste van die nasies,
'n woestyn, 'n droë land, 'n dor vlakte.
13Vanweë die Here se grimmigheid
sal sy nie bewoon word nie;
sy sal heeltemal verlate wees.
Elkeen wat by Babel verbygaan,
sal verslae wees
en fluit oor al haar wonde.
14“Stel die gevegslinies op
teen Babel aan alle kante –
almal wat die boog span!
Skiet op haar,
moenie 'n pyl spaar nie!
Want teen die Here het sy gesondig.
15 Hef die krygsgeskreeu
teen haar aan van alle kante!
Sy gee oor, haar torings val,
haar mure word afgebreek;
want dit is die wraak van die Here.
Wreek julle op haar!
Soos wat sy gedoen het,
doen dit aan haar.
16Roei die saaiers in Babel uit,
ook dié wat die sekel vashou in die oestyd.
Weens die gewelddadige swaard
sal elkeen van hulle na sy volk draai,
en elkeen van hulle na sy land toe vlug.
17“Israel is 'n verwilderde skaap;
leeus het hom verdryf.
Eers het die koning van Assirië hom verslind;
en nou teen die einde
het Nebukadresar, die koning van Babilonië,
aan sy bene geknaag. ”
18 Daarom, so sê die Here,
Heerser oor alle magte,
die God van Israel:
“Kyk, Ek gaan van die koning van Babilonië en sy land rekenskap eis,
soos wat Ek van die koning van Assirië rekenskap geëis het.
19 Ek sal Israel terugbring na sy weiveld,
en hy sal op Karmel en Basan wei.
Op die bergland van Efraim en in Gilead
sal hy versadig word.
20In daardie dae en in daardie tyd,”
is die uitspraak van die Here,
“sal die sondeskuld van Israel gesoek word,
maar dit sal nie daar wees nie,
ook die sondes van Juda,
maar dit sal nie gevind word nie.
Want Ek sal dié wat Ek laat oorbly,
vergewe.
21“Teen die land Meratajim,
trek daarteen op,
en teen die inwoners van Pekod!
Agtervolg hulle met doodslag en die banvloek! ”
is die uitspraak van die Here.
“Doen alles wat Ek jou beveel!”
22Daar is die rumoer van oorlog in die land –
totale ineenstorting!
23 Hoe is die hamer van die hele aarde
nie stukkend gekap en verpletter nie!
Hoe het Babel nie 'n skrikbeeld
onder die nasies geword nie!
24“Ek het vir jou 'n strik gestel,
en jy is toe ook gevang, Babel;
maar jy het dit self nie besef nie.
Jy is betrap en ook gevange geneem;
want met die Here wou jy kragte meet.”
25 Die Here het sy voorraadkamer oopgemaak
en die wapens van sy vervloeking
uitgehaal.
Want daar is 'n taak vir my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte,
in die land van die Galdeërs.
26“Dring dit binne van alle kante af!
Maak sy graanskure oop!
Stapel die inwoners op soos graanhope
en tref die land met die banvloek!
Daar moet vir die land niks oorbly nie.
27Slaan al sy jong bulle dood,
hulle moet afgaan om geslag te word.
Want hulle dag het gekom,
die tyd wanneer
met hulle afgereken word.
28Daar is die geluid van vlugtelinge,
en van hulle wat ontkom het
uit die land Babilonië;
hulle is daar om in Sion
die wraak te verkondig
van die Here, ons God –
die wraak vir sy •tempel.
29Roep die boogskutters op na Babel,
almal wat die boog span!
Beleër haar reg rondom!
Daar moet geen wegkomkans wees nie.
Vergeld haar in ooreenstemming
met haar dade;
net soos sy gedoen het,
doen dit aan haar;
want teen die Here
het sy vermetel opgetree,
teen die Heilige van Israel.
30 Daarom sal haar jong manne val
op haar stadspleine,
en al haar krygsmanne sal omkom
op daardie dag,”
is die uitspraak van die Here.
31“Dit is Ek teen jou, vermetele,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
“Want jou dag het gekom,
die tyd waarop Ek met jou afreken.
32Die vermetele sal struikel en val,
en niemand sal hom ophelp nie.
Ek sal 'n vuur in sy dorpe aansteek,
en dit sal sy hele omgewing verteer. ”
33So sê die Here, Heerser oor alle magte:
“Die Israeliete word verdruk,
en die Judeërs saam met hulle.
Almal wat hulle weggevoer het,
hou hulle terug,
hulle weier om hulle te laat gaan.
34 Hulle losser is sterk,
Here, Heerser oor alle magte
is sy Naam.
Hy sal beslis hulle regstryd voer,
sodat Hy die aarde tot rus kan bring,
maar onrus kan skep
vir die inwoners van Babel.
35“Trek die swaard teen die Galdeërs,”
is die uitspraak van die Here,
“teen die inwoners van Babel,
teen haar •hoë amptenare
en teen haar wyse manne!
36 Trek die swaard
teen die orakelpriesters!
Hulle sal dwase word.
Trek die swaard teen haar helde!
Hulle sal verslae staan.
37Trek die swaard teen haar perde en strydwaens,
teen die hele gemengde
bevolking in haar midde!
Hulle sal soos vroue word.
Trek die swaard
teen haar voorraadkamers!
Dit sal geplunder word.
38 Trek die swaard teen haar waters!
Dit moet opdroog!
Want dit is 'n land van afgodsbeelde;
en deur dié drogbeelde
raak hulle waansinnig.
39 Daarom sal woestyndiere
saam met hiënas daar bly;
ook steenuile sal daarin bly.
Sy sal vir ewig nie weer bewoon word nie,
van geslag tot geslag nooit weer 'n tuiste bied nie.
40 Soos ná die verwoesting
van Sodom en Gomorra
en hulle buurdorpe deur God,”
is die uitspraak van die Here,
“sal niemand daar woon nie,
sal geen mens daar oorbly nie.
41“ Kyk, 'n volk kom uit die noorde,
'n groot nasie en talle konings.
Hulle is wakker gemaak
by die uithoeke van die aarde.
42Boog en kromswaard
hou hulle gereed,
harteloos is hulle, en genadeloos.
Hulle klink soos die see wat dreun;
op perde ry hulle.
Hulle is manne wat in 'n gevegslinie
opgestel is teen jou,
dogter van Babel.
43Die koning van Babilonië
het berig gekry oor hulle,
en sy moed het hom begewe.
Benoudheid het hom beetgepak,
angs soos wanneer 'n vrou
geboorte gee.
44 Kyk, soos wanneer 'n leeu
opkom uit die trots van die Jordaan
na 'n weiplek aan
'n standhoudende stroom,
ja, so sal Ek hulle vinnig
daarvandaan laat weghardloop;
en wie daartoe verkies is,
sal Ek daar aanstel.
Want wie is soos Ek?
Wie kan My voor die gereg daag?
Wie is hierdie herder
wat voor My sal standhou?”
45Daarom, luister na
die raadsbesluit van die Here
wat Hy teen Babel geneem het,
en na sy planne wat Hy
teen die land van die Galdeërs
beraam het:
Hulle sal hulle beslis wegsleep,
selfs die kleinstes van die kudde.
Oor hulle sal Hy beslis
hulle weiding laat verwoes.
46Oor die uitroep
“Babel is verower!”
bewe die aarde.
'n Hulpgeroep word
onder die nasies gehoor.

Tans Gekies:

Jeremia 50: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan