Jeremia 52

52
Verwoesting van Jerusalem
1 Sedekia was een-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos Jojakim gedoen het. 3Ja, vanweë die Here se toorn het dit met Jerusalem en Juda gebeur, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid verwerp het.
Sedekia het teen die koning van Babilonië in opstand gekom. 4 In die negende jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadresar, die koning van Babilonië, by Jerusalem aangekom, hy met sy hele leër, en dit beleër. Hy het beleëringswerke reg rondom die stad opgerig, 5en so het die stad onder beleg gekom tot die elfde regeringsjaar van koning Sedekia. 6Teen die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was, en daar nie meer kos was vir die volk van die land nie, 7is 'n bres in die stadsmuur geslaan. Al die krygsmanne het gevlug en in die nag met die pad deur die poort tussen die twee mure by die koning se tuin uit die stad gegaan, terwyl die Galdeërs oral om die stad was. Hulle het in die rigting van die Araba gegaan. 8Maar die leër van die Galdeërs het die koning agternagesit. Hulle het Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Sy hele leër het verstrooi geraak, weg van hom af. 9Hulle het die koning gevange geneem en hom opgevat na die koning van Babilonië, na Ribla in die land Hamat, en hy het vonnisse oor hom uitgespreek. 10Die koning van Babilonië het die seuns van Sedekia voor sy oë tereggestel. Ook al die •hoë amptenare van Juda het hy in Ribla tereggestel. 11 Sedekia se oë het hy verblind en hom met bronskettings geboei. Die koning van Babilonië het hom na Babel geneem en hom in 'n plek van bewaking gesit tot die dag van sy dood.
Wegvoering in ballingskap
12In die vyfde maand, op die tiende van die maand – dit was in die negentiende regeringsjaar van koning Nebukadresar, die koning van Babilonië – het Nebusaradan, die •aanvoerder van die lyfwag, wat in diens van die koning van Babilonië gestaan het, in Jerusalem aangekom. 13Hy het die huis van die Here, die paleis van die koning en al die huise in Jerusalem, ja, elke groot gebou, afgebrand. 14Die hele leër van die Galdeërs wat saam met die aanvoerder van die lyfwag was, het al die stadsmure van Jerusalem reg rondom afgebreek.
15Sommige van die armes van die volk en die res van die volk wat in die stad oorgebly het, asook die drosters wat na die koning van Babilonië oorgeloop het, en die res van die vakmanne, is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, in ballingskap weggevoer. 16Sommige van die armes in die land is deur Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, agtergelaat as wingerdboere en landbouers.
17 Die bronspilare wat in die huis van die Here was, die verskuifbare staanders, asook die bronssee wat in die huis van die Here was, het die Galdeërs stukkend gebreek, en al die brons na Babel weggedra. 18Die potte, skoppies, messe, offerbakke, skottels, en al die bronsgereedskap waarmee die tempeldiens verrig is, het hulle gevat. 19Die bakke, die vuurpanne, die offerbakke, die potte, die kandelare, die skottels en die komme, wat van suiwer goud en suiwer silwer was, het die aanvoerder van die lyfwag gevat. 20Wat betref die twee pilare, die een See en die twaalf bronsbeeste daaronder, die verskuifbare staanders wat koning Salomo vir die huis van die Here gemaak het – die brons van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie. 21Wat die pilare betref: Agttien el was die hoogte van elke pilaar, en 'n lyn van veertien el het dit omspan; die wand se dikte was vier vingers; dit was hol. 22Daar was 'n bronskapiteel bo-op, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granate op die kapiteel reg rondom, alles van brons. Dieselfde geld vir die tweede pilaar met sy granate. 23Daar was ses-en-negentig granate aan die kante. Die granate op die vlegwerk rondom was altesaam een honderd.
24Die aanvoerder van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, Sefanja, die priester tweede in rang, en die drie deurwagters geneem, 25en uit die stad het hy een paleisamptenaar wat oor die krygsmanne aangestel was, saam met sewe van die manne wat die koning bygestaan het en wat nog in die stad aangetref kon word, asook die sekretaris, die hoë amptenaar van die leër wat die oproep vir die volk van die land se krygsdiens hanteer het, en sestig man uit die volk van die land wat in die stad te vinde was. 26Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, het hulle gevange geneem en hulle na die koning van Babilonië in Ribla geneem. 27Die koning van Babilonië het hulle in Ribla, in die land Hamat, neergevel en doodgemaak.
So is Juda van sy grond af in ballingskap weggevoer.
28Dit is die getal mense wat deur Nebukadresar weggevoer is:
in die sewende jaar 3 023 Judeërs,
29en in die agttiende regeringsjaar van Nebukadresar, 832 persone uit Jerusalem.
30In die drie-en-twintigste regeringsjaar van Nebukadresar het Nebusaradan, die aanvoerder van die lyfwag, 745 Judeërs weggevoer.
Al die persone saam was 4 600.
31 In die sewe-en-dertigste jaar van die ballingskap van Jojagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die vyf-en-twintigste van die maand, het Ewil-Merodag, die koning van Babilonië, in die jaar toe hy koning geword het, aan Jojagin, koning van Juda, 'n weldaad bewys en hom uit die gevangenis vrygelaat. 32Hy het vriendelik met hom gepraat en hom 'n sitplek gegee hoër as die sitplekke van die konings wat saam met hom in Babel was 33en sy gevangenisklere vervang. Hy het altyd, solank hy geleef het, aan die koning se tafel geëet. 34En sy lewensonderhoud – 'n vaste lewensonderhoud – is deur die koning van Babilonië aan hom gegee, soveel as wat hy elke dag nodig gehad het, tot die dag van sy dood, al sy lewensdae.

Tans Gekies:

Jeremia 52: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan