Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Gaan staan by die poort van die huis van die HERE. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die HERE, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die HERE in aanbidding te buig! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die HERE, die tempel van die HERE, die tempel van die HERE is dit!’ nie. As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, •vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie.
“ ‘ “ Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, 'n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die HERE.
“ ‘ “ Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die HERE, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ”