Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Johannes 11:33-45

Johannes 11:33-45 AFR20

Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Johannes 11:33-45