Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

JOHANNES 11:33-45 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JOHANNES 11:33-45 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.” Jesus het gehuil. Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!” Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was 'n rotsgraf, en daar was 'n klip voor die ingang gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?” Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met 'n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

JOHANNES 11:33-45 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het! En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie? En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was 'n spelonk, en 'n steen het daarteen gelê. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. En nadat Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met 'n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. EN baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.

JOHANNES 11:33-45 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.” Jesus begin toe huil. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!” Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?” Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol. Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.” Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het. Ek weet dat U altyd na My luister; tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.” Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek. Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom begin glo.

JOHANNES 11:33-45 DB (Die Boodskap)

Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus. “Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê: “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?” Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.” “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.” Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.” Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!” Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar. Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.” Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword.

JOHANNES 11:33-45 ABA (Bybel vir almal)

Jesus het gesien Maria huil. Hy het gesien die Jode wat saam met haar gekom het, huil ook. Toe was Jesus baie hartseer en ontsteld. Hy het gevra: “Waar het julle vir Lasarus begrawe?” Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk, ons sal vir U gaan wys.” Jesus het gehuil. Die Jode het gesê: “Kyk, Jesus huil, hy was baie lief vir Lasarus.” Party Jode het gesê: “Jesus het die blinde man laat sien. Hoekom het hy vir Lasarus laat sterf?” Toe Jesus by die graf kom, het Hy weer baie hartseer geword. Die graf was 'n grot en daar was 'n klip voor die ingang. Jesus het gesê hulle moet die klip wegrol. Marta, die suster van Lasarus, het vir Jesus gesê: “Nee, Here, ons kan dit nie doen nie. Lasarus is vier dae in die graf en dit sal sleg ruik.” Jesus het vir haar gesê: “Ek het vir jou gesê jy moet glo, dan sal jy sien God sal wys dat Hy God is.” Die Jode het die klip weggerol. Jesus het na die hemel gekyk en gesê: “Vader, dankie dat U my gebed hoor. Ek sê dit sodat die mense wat hier rondom My staan, kan glo dat U My na die wêreld gestuur het. Ek weet U luister altyd na my gebed.” Toe Jesus klaar gebid het, het Hy hard geskree en gesê: “Lasarus, kom uit die graf!” Lasarus, die man wat gesterf het, het uit die graf gekom. Die grafdoeke was nog om sy voete en hande, en daar was 'n kopdoek oor sy gesig. Jesus het vir hulle gesê: “Haal die grafdoeke van Lasarus af sodat hy huis toe kan gaan.” Baie Jode wat na Maria toe gekom het, het gesien hoe Jesus vir Lasarus weer laat lewe het, en hulle het in Jesus geglo.

JOHANNES 11:33-45 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” Jesus het begin huil. Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?” Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.” Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.

JOHANNES 11:33-45 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het ook ween, het Hy in die gees gekreun en was ontsteld. En gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het gehuil. Toe sê die Jode: Kyk hoe lief het hy hom gehad! En sommige van hulle het gesê: Kon hierdie man wat die oë van die blindes oopgemaak het, nie veroorsaak het dat selfs hierdie man nie gesterf het nie? Jesus kom dan weer in homself kreunend na die graf. Dit was 'n grot, en 'n klip het daarop gelê. Jesus sê: Neem die klip weg. Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy stink teen hierdie tyd, want hy is al vier dae dood. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê dat, as jy glo, jy die heerlikheid van God sou sien nie? Toe het hulle die klip weggeneem van die plek waar die dooies neergelê is. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. En ek het geweet dat U na my altyd luister, maar ter wille van die mense wat daarby staan, het ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U my gestuur het. En toe Hy dit gesê het, het Hy met 'n groot stem uitgeroep: Lasarus, kom uit! En die dooie het uitgekom, met grafdoeke aan hande en voete gebind, en sy gesig was met 'n doek omgebind. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan. En baie van die Jode wat na Maria gekom het en die dinge gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo.