Johannes 16:4-15

Johannes 16:4-15 AFR20

Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer hulle tyd aanbreek, julle kan onthou dat Ek dit vir julle gesê het.” “Ek het hierdie dinge nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was. Maar nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het, en nie een van julle vra My, ‘Waarheen gaan U?’ nie. Maar omdat Ek hierdie dinge vir julle gesê het, is julle harte vol droefheid. Ek vertel julle egter die waarheid: Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van •geregtigheid en van oordeel: “Van sonde, omdat hulle nie in My glo nie; van geregtigheid, omdat Ek na die Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld reeds geoordeel is. “ Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Maar wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die volle waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die toekomstige dinge aan julle bekend maak. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak. Alles wat die Vader het, is ook myne. Daarom het Ek gesê: Wat Hy van My ontvang, sal Hy ook aan julle bekend maak.”

Video vir Johannes 16:4-15