JOHANNES 16:4-15

JOHANNES 16:4-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar Ek sê dit nou vir julle, sodat wanneer die tyd daarvoor aanbreek, julle daaraan moet dink dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die begin af vir julle gesê nie, omdat Ek nog by julle was.” “Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het, en tog vra niemand van julle vir My: ‘Waar gaan U heen?’ nie. Maar omdat Ek dit vir julle sê, is julle harte vol droefheid. Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel. “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

JOHANNES 16:4-15 Die Boodskap (DB)

Wees gewaarsku. Moenie julle onkant laat vang wanneer hierdie dinge gebeur nie, want julle weet nou daarvan. Kry julle reg. Ek vertel julle nou eers daarvan, want dit was nie nodig om dit vroeër vir julle te sê nie. Ek was mos die hele tyd by julle.” “Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het.

JOHANNES 16:4-15 Bybel vir almal (ABA)

Ek sê dit alles vir julle, want wanneer die tyd kom en hulle doen dit, dan wil Ek hê julle moet onthou Ek het gesê dit sal gebeur.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Ek het nie al hierdie dinge in die begin vir julle gesê nie, want Ek was by julle. Nou gaan Ek terug na die Vader wat My na die wêreld gestuur het, maar nie een van julle vra vir My waarnatoe Ek gaan nie. Julle het baie hartseer geword omdat Ek al hierdie dinge vir julle gesê het. Maar Ek vertel vir julle die waarheid: Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur. Wanneer die Helper kom, dan sal Hy vir die mense van die wêreld bewys dat hulle verkeerd dink oor sonde, en oor wie reg is voor God, en oor die oordeel van God. Hulle dink verkeerd oor sonde, want hulle glo nie in My nie. Hulle dink verkeerd oor wie reg is voor God, want Ek gaan na die Vader toe en julle sal My nie meer sien nie. Hulle dink verkeerd oor die oordeel van God, want God het klaar die Satan, die leier van die mense van die wêreld, ge-oordeel. “Daar is nog baie ander dinge wat Ek vir julle wil sê, maar dit is te moeilik vir julle om nou te verstaan. Wanneer die Helper kom, die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is, dan sal Hy vir julle alles vertel van die waarheid. Hy sal nie self dink wat Hy vir julle moet vertel nie. Nee, Hy sal vir julle vertel wat Hy by My en by die Vader hoor. Hy sal julle help om die dinge te verstaan wat nog met julle sal gebeur. Die Helper sal wys dat Ek God is, want alles wat Hy vir julle sal sê, kom van My. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My. Dit is hoekom Ek sê alles wat die Heilige Gees vir julle sal sê, kom van My.”

JOHANNES 16:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het dit nou vir julle gesê sodat, wanneer hulle uur ook al slaan, julle moet onthou dat Ek dit vir julle gesê het. Ek het dit egter nie van die heel begin af vir julle gesê nie omdat Ek nog heeltyd saam met julle was.” “Nou is Ek op pad terug na Hom toe wat My gestuur het; tog vra niemand van julle vir My: ‘Waarheen gaan U?’ nie. Omdat Ek dit egter vir julle gesê het, het hartseer julle harte oorweldig. Laat Ek julle egter die waarheid vertel: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Raadgewer, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek die Raadgewer na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sy sonde, van God se regverdige oordeel, en dat die oordeel hier is. Van sonde, omdat die wêreld nie in My glo nie; van God se regverdige oordeel, omdat Ek teruggaan na die Vader toe en julle My nie meer sien nie; van veroordeling, omdat die regeerder van hierdie wêreld reeds veroordeel is. “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou verwerk nie. Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel. Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”