Johannes 3:22-30

Johannes 3:22-30 AFR20

Hierna het Jesus en sy dissipels na die landstreek Judea gegaan en daar 'n rukkie saam met hulle vertoef, en mense laat doop. Johannes was ook besig om te doop, by Enon naby Salim, omdat daar baie water daar was, en mense gekom het om hulle te laat doop. Johannes was immers nog nie in die tronk gegooi nie. Daar het toe 'n woordestryd tussen sommige van Johannes se dissipels en 'n Jood oor die seremoniële reiniging ontstaan. Hulle kom toe na Johannes en sê vir hom: “Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, die Een van wie u getuig het – kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.” Johannes het geantwoord: “'n Mens kan niks ontvang as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie. Julle kan self getuig dat ek gesê het dat ek nie die Christus is nie, maar dat ek voor Hom uitgestuur is. Die een wat die bruid het, is die bruidegom, maar die vriend van die bruidegom wat daar staan en na hom luister, is baie bly oor die stem van die bruidegom. Daarom is hierdie blydskap van my volkome. Hy moet meer word, en ek minder.

Video vir Johannes 3:22-30