Job 33

33
1 Maar luister tog
na my argumente, Job!
Hoor al my woorde!
2Kyk, ek het my mond oopgemaak,
die woorde lê op my tong.
3Uit 'n opregte hart kom my woorde;
en wat my lippe weet,
deel hulle suiwer mee.
4 Die Gees van God het my gemaak;
die asem van die Almagtige hou my lewend.
5As jy kan, antwoord my!
Sit die saak voor my uiteen;
neem standpunt in!
6 Kyk, voor God is ek net soos jy;
ook ek is van klei afgeknyp.
7Ja, vrees vir my
hoef jou nie te ontstel nie,
my hand sal nie swaar
op jou rus nie.
8“ Jy het beslis voor my ore gesê
– en die klank van die woorde
hoor ek steeds –
9‘Ek is rein,
sonder 'n oortreding;
ek is skoon;
sondeskuld het ek nie.
10Kyk, God vind redes
om my teen te staan,
Hy beskou my as 'n vyand van Hom.
11 Hy sit my voete in die blok;
Hy hou al my bewegings dop.’
12Kyk, hierin het jy nie gelyk nie
– so antwoord ek jou –
want God is groter as 'n sterfling.
13 Waarom voer jy met Hom 'n twisgesprek,
as Hy Hom nie verweer
oor al sy dade nie?
14 Want God praat op een,
ja, op twee maniere,
maar die mens sien dit nie raak nie.
15In 'n droom, in 'n naggesig,
wanneer 'n diep slaap mense oorval,
en hulle insluimer op hulle beddens,
16dan open Hy die ore van mense,
en bevestig Hy die vermanings
aan hulle –
17om mense te laat afsien
van wat hulle doen,
en 'n man van hoogmoed te vrywaar,
18om hom weg te hou van die grafkuil,
sy lewe daarvan te weerhou
om die rivier oor te steek.
19Of hy word met pyn op sy bed tereggewys –
'n voortdurende stryd in sy gebeente,
20 sodat sy lewe walg van kos,
en hy self van begeerlike voedsel.
21 Sy liggaam teer weg,
raak onaansienlik;
sy gebeente, wat onsigbaar was,
word ontbloot.
22Hy beweeg self nader aan die grafkuil,
sy lewe beweeg nader aan hulle
wat die dood bring.
23As daar by hom 'n engel is,
'n voorspraak,
een van die duisende,
om vir die mens oor sy
opregtheid te getuig,
24en dié hom genadig is en sê,
‘Bevry hom daarvan
om na die grafkuil af te daal,
ek het 'n losprys vir hom gekry,’
25 word sy liggaam lewenskragtiger
as dié van 'n jong man,
keer hy terug na die dae van sy jeug.
26Wanneer hy by God pleit,
aanvaar Hy hom;
hy ervaar God se teenwoordigheid
met 'n uitroep van vreugde,
en God herstel die sterfling
se geregtigheid.
27 So iemand kyk na mense en sê:
‘Ek het gesondig
en die reg verdraai,
maar daar is nie met my
afgereken nie.
28God het my vrygekoop
van die oorgang na die grafkuil;
en my lewe mag hom
in die lig verlustig.’
29“Kyk, al hierdie dinge doen God
selfs twee of drie maal met 'n man,
30 om hom van die grafkuil weg te keer,
en die lig van die lewe te laat skyn.
31Gee aandag, Job! Luister na my!
Wees stil, en ek sal praat!
32As jy woorde het, antwoord my!
Praat, want ek wil jou
graag gelyk gee.
33Indien nie, luister jy dan na my!
Wees stil, en ek sal jou wysheid leer.”

Tans Gekies:

Job 33: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan