Joël 1

1
Opskrif
1 Dit is die woord van die Here aan Joël, seun van Petuel.
Oproep tot boetedoening
2 Luister hierna, oudstes,
gee aandag, al die inwoners van die land!
Het so iets al in julle leeftyd gebeur,
of in die leeftyd van julle voorouers?
3 Hiervan moet julle
vir julle kinders vertel,
en julle kinders vir hulle kinders,
en hulle kinders
vir die volgende geslag.
4 Wat die ruspes laat oorbly het,
het die treksprinkane opgevreet;
wat die treksprinkane laat oorbly het,
het die voetgangersprinkane opgevreet,
wat die voetgangers laat oorbly het,
het die kaalvretersprinkane opgevreet.
5 Skrik wakker, dronkaards, en huil,
huil verdrietig, alle drinkebroers,
oor die sap van druiwe,
want dit is voor julle monde weggeruk!
6 Want, 'n nasie het opgetrek teen my land,
magtig en ontelbaar.
Hulle tande is die tande van 'n leeu,
hulle het die kake van 'n leeuwyfie.
7 Hulle het verwoesting aangerig
in my wingerd,
en van my vyebome fynhout gemaak.
Hulle het dit heeltemal kaal gestroop,
dit laat val;
die druiweranke staan wit gebleik.
8 Huil soos 'n jongmeisie
wat rouklere aantrek
oor die verloofde van haar jeug.
9 Die voorsiening van •graan-
en •drankoffers aan die •tempel
van die Here is afgesny.
Die priesters treur,
hulle wat in diens
van die Here staan.
10 Die landerye is vernietig,
die grond is uitgedor.
Ja, die koring is vernietig,
die •nuwe wyn het opgedroog,
die olyfoes het weggekwyn.
11 Staan verslae, saaiboere;
huil verdrietig, wingerdboere,
oor die koring en die gars,
want die oes op die land is verlore.
12 Die wingerdstok het verdor
en die vyeboom het verwelk,
die granaat, selfs die palm en die appelboom.
Al die bome van die veld het verdroog;
ja, die mense se vreugde het ook opgedroog.
13 Trek rouklere aan en weeklaag, priesters;
huil, julle wat diens doen by die altaar.
Kom, bring die nag deur in rouklere,
julle wat in diens van my God staan,
want •graanoffer en drankoffer
word weerhou van die huis van julle God.
14 Bepaal 'n heilige vastyd,
roep 'n gewyde byeenkoms uit.
Laat die oudstes en al die inwoners
van die land saamkom
in die huis van die Here
julle God,
en roep om hulp tot die Here!
15 Ag, daardie dag!
Ja, die dag van die Here is naby
en dit kom as verwoesting
van die Almagtige af.
16 Is die kos nie voor ons oë vernietig,
en het die vreugde en blydskap
nie uit die huis van ons God verdwyn nie?
17 Die saad lê uitgedroog onder die kluite,
die stoorplekke staan verlate,
die graanskure is verwoes;
want die koring het verdor.
18 Hoor hoe kla die diere,
die beestroppe maal rond
omdat daar nie weiding
vir hulle is nie,
selfs die troppe kleinvee kry swaar!
19 Tot U, Here, roep ek!
Want vuur het die weiding
in die woestyn verteer,
vlamme het al die bome in die veld verskroei.
20 Selfs die diere van die veld smag na U,
omdat die spruite opgedroog
en vuur die weiding in die woestyn verteer het.

Tans Gekies:

Joël 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan