Josua 11

11
Verowerings in die noorde
1Toe Jabin, die koning van Gasor, dit hoor, het hy 'n boodskap gestuur na Jobab, die koning van Madon, na die koning van Simron, na die koning van Agsaf 2en na die konings in die noorde: in die bergland, in die Araba suid van Gennesaret, in die Sjefela, en in die heuwelland by Dor in die weste – 3die Kanaäniete in die ooste en weste, die Amoriete, die Hetiete, en Feresiete, die Jebusiete in die bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispestreek.
4Hulle het met al hulle leërs saam met Jabin uitgetrek, met baie manskappe, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is en met 'n groot aantal perde en strydwaens. 5Al hierdie konings het kragte saamgesnoer, gegaan en kamp opgeslaan by die waters van Merom om teen Israel oorlog te voer. 6Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie, want môre teen hierdie tyd sal Ek hulle almal doodgemaak aan Israel oorlewer. Hulle perde se hakskeensenings moet jy afkap, en hulle strydwaens moet jy verbrand.”
7Josua en al die weerbare manskappe saam met hom het hulle by die waters van Merom verras en hulle oorval. 8Die Here het hulle in die hand van Israel gegee, en Israel het hulle verslaan en agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispevallei in die ooste. Hulle het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug het nie. 9Josua het met hulle gemaak soos die Here vir hom gesê het: Hulle perde se hakskeensenings het hy afgekap en hulle strydwaens het hy verbrand.
10In daardie tyd het Josua teruggedraai, Gasor ingeneem en sy koning met die swaard doodgemaak. Vroeër was Gasor immers die belangrikste van al daardie koninkryke. 11 Hy het elke lewende persoon daarin met die skerpte van die swaard verslaan, hulle met die banvloek getref. Niemand wat asemhaal, het oorgebly nie; en toe het hy Gasor afgebrand. 12Al hierdie koningstede, met al hulle konings, het Josua verower. Hy het hulle met die skerpte van die swaard verslaan en hulle met die banvloek getref soos Moses, die dienskneg van die Here, beveel het. 13Net die stede wat op puinheuwels staan, is nie deur Israel afgebrand nie. Gasor was die enigste uitsondering – Josua het net dit afgebrand. 14Al die buit van hierdie stede en die vee het die Israeliete vir hulleself gevat. Net die mense het hulle met die skerpte van die swaard getref, totdat hulle uitgedelg was. Hulle het niemand wat asemhaal, laat oorbly nie. 15 Soos die Here Moses, sy dienskneg, beveel het, so het Moses vir Josua opdrag gegee, en presies so het Josua dit gedoen. Hy het niks agterweë gelaat van alles wat die Here Moses beveel het nie.
Verowerde gebiede
16Josua het hierdie hele landstreek verower: die bergland, die hele Negev, die hele Gosenstreek, die Sjefela en die Araba, die berggebiede van Israel en sy laer liggende dele, 17van die berg Galak af wat oploop na Seïr, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant die berg Hermon. Al hulle konings het hy gevange geneem, hulle neergevel en hulle doodgemaak. 18Vir 'n geruime tyd het Josua teen al die konings oorlog gevoer. 19Daar was nie 'n stad wat vrede gesluit het met die Israeliete nie, behalwe die Hewiete wat in Gibeon woon. Al hierdie stede het die Israeliete in die oorlog verower. 20Dit was immers deur die Here se toedoen dat hulle hulle harte verhard het om teen Israel oorlog te voer, sodat Israel hulle met die banvloek kon tref en daar nie vir hulle genade sou wees nie – ja, sodat Israel hulle kon verdelg soos die Here Moses beveel het.
21Josua het in hierdie tyd die Enakiete gaan uitroei – uit die bergland, uit Hebron, Debir en Anab, uit die hele bergland van Juda en uit die hele bergland van Israel. Josua het hulle saam met hulle stede met die banvloek getref. 22 Daar het geen Enakiete in die land van die Israeliete oorgebly nie; net in Gasa, Gat en Asdod het daar van hulle oorgebly.
23 Josua het die hele landstreek verower, net soos die Here vir Moses gesê het. Josua het dit aan Israel as erfdeel gegee, ooreenkomstig die indeling van hulle stamme. Die land het toe gerus van oorlog.

Tans Gekies:

Josua 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan