Josua 19
19
Stamgebied van Simeon
1Die uitkoms van die tweede loting was vir Simeon, vir die stam van Simeon se nageslag, vir hulle familiegroepe. Hulle erfdeel was binne die erfdeel van die nageslag van Juda.
2In hulle erfdeel was daar vir hulle Berseba, Seba, Molada, 3Gasar-Sual, Baäla, Esem, 4Eltolad, Betul, Gorma, 5Siklag, Bet-Markabot, Gasar-Susa, 6Bet-Lebaot en Sarugen – dertien dorpe met hulle gehuggies; 7dan nog Ajin, Rimmon, Eter en Asan – vier dorpe met hulle gehuggies; 8ja, al die gehuggies wat om hierdie dorpe lê tot by Baälat-Beër en Ramat-Negev.
Dit was die erfdeel van die stam van Simeon se nageslag, vir hulle familiegroepe. 9Die erfenis van die nageslag van Simeon is geneem uit die deel van die nageslag van Juda. Omdat die deel van die nageslag van Juda te groot vir hulle was, het die nageslag van Simeon 'n erfdeel ontvang binne hulle erfdeel.
Stamgebied van Sebulon
10Die derde lot is getrek vir die nageslag van Sebulon, vir hulle familiegroepe.
Die grens van hulle erfdeel begin by Sarid. 11Hulle grens loop na die weste en na Marala; dit grens aan Dabbeset en die spruit wat langs Jokneam is. 12Van Sarid af draai dit ook na die ooste, langs die grens van Kislot-Tabor. Dit strek verder na Daberat en gaan dan op na Jafia; 13 vandaar gaan dit na die ooste verby Gat-Gefer na Et-Kasin. Dit strek verder na Rimmon, swaai weg na Nea 14en draai dan na Gannaton. Dit is die grens aan die noordekant. Die verste punt daarvan is in die dal van Jiftag-El. 15Daarby kom Kattat, Nahalal, Simron, Jidala en Betlehem – twaalf dorpe met hulle gehuggies.
16Dit was die erfdeel van die nageslag van Sebulon vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van Issaskar
17Wat Issaskar betref, die uitkoms van die vierde loting was vir die nageslag van Issaskar, vir hulle familiegroepe.
18In hulle gebied was Jisreël, Kesulot, Sunem, 19Gafarajim, Sioon, Anagarat, 20Rabbit, Kisjon, Ebes, 21Remet, En-Gannim, En-Gadda en Bet-Passes. 22Die gebied grens aan Tabor, Sagasajim en Bet-Semes, met die verste punt van hulle grens by die Jordaan – sestien stede met hulle gehuggies.
23Dit dan is die erfdeel van die stam van Issaskar se nageslag vir hulle familiegroepe, die dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van Aser
24Die uitkoms van die vyfde loting was vir die stam van Aser se nageslag, ooreenkomstig hulle familiegroepe.
25In hulle gebied was Gelkat, Gali, Beten, Agsaf, 26Alammeleg, Amad en Misal. In die weste grens hulle gebied aan Karmel en Sigor-Libnat. 27Die grens draai dan na die ooste, na Bet-Dagon, en grens aan Sebulon en die dal van Jiftag-El in die noorde, asook aan Bet-Emek en Neïel. Dit strek verder links na Kabul, 28na Ebron, Regob, Gammon en Kana, tot by Groot-Sidon. 29Die grens draai dan na Rama en loop tot by die versterkte stad Tirus. Daarna draai die grens na Gosa, met sy verste punt by die see, in die omgewing van Agsib, 30Uma, Afek en Regob – twee-en-twintig dorpe met hulle gehuggies.
31Dit dan is die erfdeel van die stam van Aser se nageslag vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van Naftali
32Wat die nageslag van Naftali betref, die uitkoms van die sesde loting was vir die nageslag van Naftali, vir hulle familiegroepe.
33Hulle grens was van Gelef af, van die akkerboom in Saänannim, oor Adami-Nekeb en Jabneël tot by Lakkum, met sy verste punt by die Jordaan. 34Die grens draai dan weswaarts na Asnot-Tabor, en vandaar strek dit verder na Gukok, en grens dan aan Sebulon in die suide en aan Aser in die weste, met die Jordaan aan die oostekant. 35Die versterkte stede was Siddim, Ser, Gammat, Rakkat, Gennesaret, 36Adama, Rama, Gasor, 37Kedes, Edreï, En-Gasor, 38Jiron, Migdal-El, Gorem, Bet-Anat en Bet-Semes – negentien dorpe met hulle gehuggies.
39Dit dan is die erfdeel van die stam van Naftali se nageslag, vir hulle familiegroepe, die dorpe met hulle gehuggies.
Stamgebied van Dan
40Wat betref die stam van Dan se nageslag, vir hulle familiegroepe was die uitkoms van die sewende loting soos volg:
41Die gebied van hulle erfdeel was Sora, Estaol, Ir-Semes, 42Saälbin, Ajalon, Jitla, 43Elon, Timna, Ekron, 44Elteke, Gibbeton, Baälat, 45Jehud, Bene-Berak, Gat-Rimmon, 46Me-Jarkon en Rakkon, saam met die gebied teenoor Jafo.
47 Die gebied van die nageslag van Dan het vir hulle verlore gegaan. Die nageslag van Dan het toe opgetrek en teen Lesem oorlog gevoer. Hulle het dit ingeneem, dit verslaan met die skerpte van die swaard en dit in besit geneem. Hulle het hulle daar gevestig, en Lesem toe Dan genoem na die naam van hulle voorvader Dan.
48Dit dan is die erfdeel van die stam van Dan se nageslag vir hulle familiegroepe, hierdie dorpe met hulle gehuggies.
Josua se erfdeel
49Toe hulle klaar was met die toewysing van die land volgens sy grense, het die Israeliete vir Josua, seun van Nun, 'n erfdeel tussen hulle gegee. 50 Op bevel van die Here het hulle vir hom die dorp gegee wat hy gevra het, Timnat-Serag, in die heuwelland van Efraim. Hy het die dorp herbou en daar gaan woon.
51 Dit dan is die erfdele wat Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die familiehoofde, voor die Here, by die ingang van die •Tent van Ontmoeting in Silo, aan die stamme van die Israeliete deur loting toegewys het. So het hulle die verdeling van die land afgehandel.
Tans Gekies:
Josua 19: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.