Klaagliedere van Jeremia 2

2
Tweede treurlied: Dade van die Here
א ALEF
1 Ag, hoe het my Heer in sy toorn
die dogter van Sion met wolke bedek.
Hy het vanuit die hemel
die sieraad van Israel
op die aarde neergewerp.
Hy het op die dag van sy toorn
nie eers die voetbank
van sy voete ontsien nie.
ב BET
2Genadeloos het my Heer
al die nedersettings van Jakob verswelg.
In sy gramskap het Hy
die versterkte stede
van die dogter van Juda afgebreek,
hulle met die grond gelyk gemaak.
Hy het die koninkryk en haar leiers onteer.
ג GIMEL
3 In sy siedende toorn
het Hy die mag van Israel
volledig gebreek.
Hy het sy regterhand daarvan
weerhou om die vyande te keer,
en in Jakob het Hy soos
'n vlammende vuur gebrand
wat alles rondom hom verteer.
ד DALET
4 Hy het sy boog soos 'n vyand gespan,
met 'n ferm regterhand –
Hy het soos 'n teenstander
almal wat kosbaar was,
om die lewe gebring.
In die tent van die dogter van Sion
het Hy sy woede soos 'n vuur uitgestort.
ה HE
5 My Heer het soos 'n vyand geword;
Hy het Israel verswelg.
Hy het al haar vestings verswelg
en sy versterkte stede vernietig.
Hy het verdriet en droefheid
by die dogter van Juda laat toeneem.
ו WAW
6 Hy het sy woonplek afgebreek
soos 'n skuiling in 'n tuin;
sy ontmoetingsplek het Hy vernietig.
Die Here het fees en Sabbat
in Sion vergete laat raak;
in die toorn van sy verontwaardiging
het Hy koning en priester geminag.
ז ZAJIN
7 My Heer het sy altaar verwerp;
sy heiligdom het Hy verstoot;
Hy het die mure van sy vestings
in die hand van 'n vyand oorgelewer.
Hulle het in die huis van die Here gejuig
soos op 'n feesdag.
ח GET
8 Die Here het beplan
om die dogter van Sion se mure
te vernietig.
Hy het 'n maatlyn gespan,
sy hand nie van verdelging
weerhou nie;
Hy het skans en stadsmuur laat weeklaag –
saam stort hulle ineen.
ט TET
9 Haar stadspoorte
het in die grond weggesak;
Hy het hulle sluitbalke
stukkend gebreek.
Haar koning en haar leiers
leef sonder leiding onder die nasies;
selfs haar profete
ontvang nie 'n visioen van die Here nie.
י JOD
10 Swyend sit die oudstes
van die dogter van Sion op die grond.
Hulle het stof op hulle koppe gestrooi,
en rouklere aangetrek.
Die jong vroue van Jerusalem
het hulle koppe
na die aarde af gebuig.
כ KAF
11 My oë is verblind deur trane;
my ingewande gloei.
My hart is stukkend
oor die ineenstorting
van die dogter van my volk,
want kinders en babas
kwyn weg op die dorpspleine.
ל LAMED
12 Hulle vra vir hulle ma's,
“Waar is die koring en wyn?”
terwyl hulle soos gewondes
wegkwyn op die stadspleine,
die lewe uit hulle uitvloei
in hulle ma's se arms.
מ MEM
13 Wat kan ek vir jou
as voorbeeld voorhou,
waarmee kan ek jou vergelyk,
dogter van Jerusalem?
Wat kan ek aan jou gelykstel,
sodat ek jou kan vertroos,
jong meisie, dogter van Sion?
Waarlik, so wyd soos die see
is die breuk in jou.
Wie kan jou genees?
נ NUN
14 Jou profete se visioene
is vir jou nutteloos en niksseggend.
Hulle het nie jou skuld ontbloot
om jou ballingskap te verhoed nie.
Die visioene wat hulle
aan jou oorgedra het,
was nutteloos en misleidend.
ס SAMEK
15 Almal wat hier verbyreis,
slaan hulle hande oor jou saam;
hulle fluit en skud hulle koppe
oor die dogter van Jerusalem:
“Is dit nou die stad
wat mense volmaak mooi noem,
'n vreugde vir die hele aarde?”
פ PE
16 Al jou vyande het hulle mond vol oor jou;
hulle fluit en kners op hulle tande,
en sê: “Ons het uitgedelg!
Waarlik, dit is die dag
waarop ons gewag het –
ons het dit bereik,
ons het dit gesien.”
ע AJIN
17 Die Here het gedoen
wat Hy Hom voorgeneem het;
Hy het sy woord vervul
wat Hy reeds lank gelede bepaal het:
Hy het genadeloos uitgeroei
en vyande oor jou verbly,
jou teenstanders die mag
laat verkry.
צ TSADE
18 Hulle harte het geroep na my Heer.
Muur van die dogter van Sion,
laat jou trane dag en nag
soos 'n rivier stroom;
gun jouself geen rus nie,
laat jou oë nie tot rus kom nie.
ק KOF
19 Staan op, roep in die nag
as die nagwake begin.
Stort jou hart soos water
voor my Heer uit.
Lig jou hande op na Hom
ter wille van die lewe van jou kinders
wat van honger
op elke straathoek wegkwyn.
ר RESJ
20 Kyk, Here, en sien tog raak
aan wie U dit gedoen het!
Moet vroue dan hulle vrug,
gesonde kinders, eet?
Moet priester en profeet dan
in die heiligdom van my Heer
doodgemaak word?
שׁ SJIN
21 Oud en jonk lê op die grond
in die strate;
my jong vroue en my jong manne
het deur die swaard geval.
U het hulle op die dag van u toorn
doodgemaak;
U het hulle genadeloos geslag.
ת TAW
22 Van oraloor het U dié
wat my bedreig,
bymekaargeroep soos op 'n feesdag;
en op die dag van die Here se toorn
het niemand ontsnap of ontkom nie.
My vyand het dié wat ek voortgebring
en grootgemaak het, uitgewis.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan