Klaagliedere van Jeremia 4
4
Vierde treurlied: Sion se skuld en ondergang
א ALEF
1 Ag, hoe het die goud sy glans verloor,
die suiwer goud verdof;
die heilige edelstene lê rondgestrooi
op al die straathoeke.
ב BET
2 Die kosbare kinders van Sion,
hulle was hulle gewig in fyngoud werd;
ag, nou word hulle gereken as kleipotte,
maaksels van 'n pottebakker se hande!
ג GIMEL
3 Selfs jakkalse laat drink,
hulle soog hulle kleintjies;
die dogter van my volk het wreed geword,
soos volstruise in die woestyn.
ד DALET
4 Van dors kleef die tong van die suigeling
aan sy verhemelte vas;
kinders bedel brood,
maar niemand breek dit vir hulle nie.
ה HE
5 Hulle wat lekkernye geëet het,
vergaan in die strate;
hulle wat met skarlaken grootgeword het,
omhels nou ashope.
ו WAW
6 Die skuld van die dogter van my volk
was erger as die sondes van Sodom –
Sodom, wat in 'n oogwink vernietig is,
sonder menslike toedoen.
ז ZAJIN
7 Die vorste van Sion
was helderder as sneeu
en witter as melk;
hulle liggame was rooier as koraal,
hulle voorkoms soos •lasuursteen.
ח GET
8Hulle is nou swarter as roet
en word nie op straat herken nie;
hulle vel verskrompel aan hulle gebeente,
dit is uitgedor soos hout.
ט TET
9 Hulle wat deur die swaard getref word,
is beter daaraan toe as hulle
wat deur hongersnood getref word,
ja, hulle wat wegkwyn,
wat ly vanweë die gebrek
aan opbrengs van die landerye.
י JOD
10 Die hande van liefdevolle vroue
het hulle kinders gekook;
hulle het hulle voedsel geword
toe die dogter van Sion
ineengestort het.
כ KAF
11 Die Here het sy woede laat uitwoed,
sy brandende toorn uitgestort;
Hy het 'n vuur in Sion aangesteek
wat haar fondamente vernietig het.
ל LAMED
12 Die konings van die aarde,
ook al die bewoners van die wêreld,
kon nie glo dat teenstanders en vyande
die poorte van Jerusalem sou binnedring nie.
מ MEM
13 Dit was die gevolg
van die sonde van haar profete
en die skuld van haar priesters,
hulle wat die bloed van regverdiges
daar vergiet het.
נ NUN
14 Blind het hulle deur die strate gestrompel,
met bloed besoedel;
niemand kon aan hulle klere raak nie.
ס SAMEK
15 “Gaan weg, •onreines!”
het die mense vir hulle geskreeu.
“Gaan weg! Gaan weg!
Moenie aanraak nie!”
Toe hulle op die vlug geslaan het,
ja, toe hulle onder die nasies
rondgeswerf het,
het die mense gesê:
“Hulle mag nie meer hier bly nie!”
פ PE
16 Die Here self het hulle verstrooi,
Hy sien nie meer na hulle om nie.
Priesters word nie gerespekteer nie;
vir die oudstes is daar geen genade nie.
ע AJIN
17 Met oë wat dof raak,
het ons bly uitsien na hulp –
maar tevergeefs;
in ons wagtorings het ons
bly uitkyk vir 'n nasie –
wat nie kan red nie.
צ TSADE
18 Ons kon nie 'n tree gee
sonder dat hulle op ons
jag maak nie;
ons kon nie op straat verskyn nie.
Ons einde was naby,
ons dae was getel;
ja, ons einde het aangebreek.
ק KOF
19 Ons agtervolgers was vinniger
as arende in die lug;
oor die berge het hulle op ons hakke gebly,
in die woestyn het hulle ons voorgelê.
ר RESJ
20 Ons lewensasem,
die gesalfde van die Here,
is in hulle vangkuile gevang –
die een in wie se skadu
ons gedink het
ons onder die nasies sou leef!
שׁ SJIN
21 Wees maar vrolik en bly,
dogter van Edom
wat woon in die land Us;
ook aan jou sal die beker gegee word,
jy sal dronk word en jouself ontbloot.
ת TAW
22Jou skuld is vereffen, dogter van Sion,
Hy sal jou nie weer in ballingskap laat gaan nie.
Vir jou skuld sal Hy jou
laat betaal, dogter van Edom,
Hy gaan jou sonde blootlê.
Tans Gekies:
Klaagliedere van Jeremia 4: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.