Levitikus 26

26
Belofte en bedreiging
1“ ‘ Julle mag nie vir julle afgode maak nie; gesnede beelde en gedenkstene mag julle nie vir julle oprig en klippe met afbeeldings op mag julle nie in julle land neersit en in aanbidding voor hulle buig nie, want Ek, die Here, is julle God. 2 My Sabbatte moet julle hou en vir my heiligdom moet julle ontsag hê. Ek is die Here.
3“ ‘ As julle my vaste voorskrifte volg en my bevele nakom en dit uitvoer, 4sal Ek julle reën op die regte tyd vir julle gee. Die land sal sy opbrengs lewer en die bome in die veld sal hulle vrugte gee. 5 Die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiweoes, en die druiweoes sal aanhou tot saaityd. Julle sal meer as genoeg eet en veilig woon in julle land.
6“ ‘ Ek sal vrede gee in die land. Julle sal gaan lê en niemand sal julle opjaag nie. Ek sal die ongediertes uit die land verwyder en 'n swaard sal nie deur julle land trek nie. 7 Julle sal julle vyande agtervolg en deur die swaard sal hulle voor julle val. 8Vyf van julle sal honderd agtervolg en honderd van julle sal tienduisend agtervolg, ja, julle vyande sal deur die swaard voor julle val. 9 Ek sal na julle omsien, julle vrugbaar maak en julle laat vermeerder. Ek sal my verbond met julle gestand doen. 10 Julle sal nog graan van die vorige jaar oorhê om te eet, maar julle sal dit moet weggooi met die nuwe oes.
11“ ‘ Ek sal my •tabernakel onder julle oprig en nie 'n afkeer van julle hê nie. 12 Ek sal tussen julle rondbeweeg: Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir My 'n volk wees. 13Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipteland laat wegtrek het, sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die skeie van julle jukke gebreek en julle regop laat loop.
14“ ‘ Maar as julle na My nie luister en al hierdie bevele nie uitvoer nie; 15ja, as julle my vaste voorskrifte verwerp en 'n afkeer het van my beslissings, sodat julle nie al my bevele uitvoer nie en my verbond so verbreek, 16 dan sal Ek die volgende aan julle doen: Ek sal onverwags verskrikking oor julle bring – tering en koors wat die oë laat verdof en die lewenskrag laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs julle saad saai; julle vyande sal dit opeet. 17Ek sal teen julle draai, sodat julle deur julle vyande verslaan word. Julle haters sal julle vertrap. Julle sal vlug sonder dat iemand julle agtervolg.
18“ ‘ En as julle daarna nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewe keer te straf vir julle sondes. 19Ek sal julle hardnekkige verwaandheid breek: Ek sal julle hemel soos yster maak en julle grond soos brons. 20Julle kragte sal tevergeefs ingespan word: Julle grond sal sy opbrengs nie gee nie en die bome van julle grond sal hulle vrugte nie lewer nie.
21“ ‘En as julle My steeds teengaan en nie bereid is om na My te luister nie, sal Ek oor julle die slae sewe keer vermeerder ooreenkomstig julle sondes. 22 Ek sal wilde diere onder julle loslaat; hulle sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei. Hulle sal julle so min maak dat julle paaie verlate sal wees.
23“ ‘En as julle, te midde daarvan, julle nie deur My wil laat teregwys nie en My teengaan, 24sal Ek julle ook teengaan; ja, Ek sal julle sewe keer tref oor julle sondes. 25 Ek sal julle met die swaard tref om die skending van die verbond te wreek. En wanneer julle julle terugtrek in julle stede, sal Ek 'n epidemie onder julle loslaat, sodat julle in die hand van die vyand oorgegee word. 26 Wanneer ek julle broodstok breek, sal tien vroue julle brood in een oond kan bak en dit volgens gewig uitdeel. Julle sal eet, maar nie versadig raak nie.
27“ ‘En as julle onder dié omstandighede nie na My luister nie en My bly teengaan, 28 sal Ek julle met woede teengaan; ja, Ek sal julle dan sewe keer straf oor julle sondes. 29 Julle sal die vleis van julle seuns eet; ook die vleis van julle dogters sal julle eet. 30 Ek sal julle offerhoogtes verdelg en julle wierookaltare vernietig. Ek sal julle lewelose liggame op die lewelose liggame van julle afgode stapel. Ek sal 'n afkeer van julle hê. 31 Ek sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes. Ek sal julle geurige offers nie wil ruik nie. 32 Ek self sal julle land verwoes sodat julle vyande wat daar woon verslae sal wees daaroor. 33 Maar julle sal Ek onder die nasies verstrooi en die swaard agter julle ontbloot. Julle land sal 'n woesteny word en julle stede puinhope.
34“ ‘ Dan sal die land vergoed word vir sy Sabbatte, al die dae wat dit onbewerk lê terwyl julle in die land van julle vyande is. Ja, dan sal die land rus en vergoeding kry vir sy Sabbatte. 35Al die dae wat die grond onbewerk lê, sal dit die rus kry wat dit nie gehad het gedurende julle Sabbatte toe julle daarop gewoon het nie.
36“ ‘ Wat betref dié van julle wat oorbly, Ek sal in die lande van hulle vyande soveel vertwyfeling in hulle harte bring dat die geluid van 'n dwarrelende blaar hulle op loop sal jaag. Hulle sal vlug asof vir 'n swaard en val sonder iemand wat hulle agtervolg. 37Hulle sal oor mekaar struikel soos voor die swaard, maar met geen agtervolger nie!
“ ‘Julle sal nie voor julle vyande kan standhou nie. 38Julle sal verdwyn tussen die nasies; die land van julle vyande sal julle verteer. 39 En dié van julle wat oorbly, sal in die lande van hulle vyande wegteer oor hulle sondeskuld; hulle sal ook wegteer oor die sondeskuld van hulle voorouers wat hulle met hulle saamdra.
40“ ‘ Maar as hulle hulle sondeskuld en dié van hulle voorouers bely, dit wat hulle in hulle ontrou teen My begaan het deur My selfs teen te gaan, 41 sodat Ek ook hulle teengegaan het deur hulle in die land van hulle vyande te bring; ja, as hulle onbesnede harte dan verootmoedig word en hulle boet vir hulle sondeskuld, 42 sal Ek my verbond met Jakob onthou; ook my verbond met Isak en my verbond met Abraham sal Ek onthou, en aan die land sal Ek dink. 43 Maar die grond moet eers van hulle verlate wees, sodat dit vir sy Sabbatte vergoed kan word terwyl dit onbewerk lê sonder hulle. Hulle sal moet boet vir hulle sondeskuld omdat hulle my beslissings verwerp en 'n afkeer van my vaste voorskrifte gehad het.
44 “ ‘Maar selfs dan, wanneer hulle in die land van hulle vyande is, sal Ek hulle nie verwerp nie. Ek sal nie so 'n afkeer van hulle hê dat Ek hulle sal uitwis en my verbond met hulle sal verbreek nie. Ek, die Here, is immers hulle God. 45Ek sal tot hulle voordeel dink aan die verbond met die voorgeslagte wat Ek voor die oë van die nasies uit Egipteland laat wegtrek het om vir hulle 'n God te wees. Ek is die Here.’ ”
46 Dit is die vaste voorskrifte, die beslissings en onderrig wat die Here by die berg Sinai deur Moses gegee het vir die verhouding tussen Hom en die Israeliete.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan