Levitikus 4:1-13

Levitikus 4:1-13 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “ Sê vir die Israeliete, ‘Iemand sondig dalk onopsetlik teen een van al die HERE se gebooie en doen iets wat nie gedoen mag word nie. As die gesalfde priester sondig, sodat die volk skuldig is, moet hy vir die sonde wat hy gedoen het, 'n jong bul sonder gebrek vir die HERE as •reinigingsoffer bring. Hy moet die bul na die ingang van die •Tent van Ontmoeting voor die HERE bring, sy hand op die kop van die bul lê en dit voor die HERE keelaf sny. Dan moet die gesalfde priester van die bul se bloed neem en dit in die Tent van Ontmoeting invat. Die priester moet sy vinger in die bloed doop en van die bloed sewe maal voor die HERE sprinkel aan die voorkant van die voorhangsel van die heiligdom. Die priester moet ook van die bloed smeer aan die horings van die altaar vir die geurige reukwerk wat in die Tent van Ontmoeting voor die HERE staan. Die res van die bul se bloed moet hy uitgooi teen die basis van die brandofferaltaar wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting staan. Die een wat die offer bring, moet ál die vet uit die bul vir die reinigingsoffer uithaal: die vet wat die binnegoed bedek en al die vet aan die binnegoed, sowel as die twee niere met die vet daaraan wat teen die kruis lê. Die lewerlob moet hy saam met die niere verwyder, soos wat dit uit die bul vir die •maaltydoffer uitgehaal word. Daarna moet die priester dit alles op die brandofferaltaar verbrand. Maar die vel van die bul en al sy vleis, asook sy kop, pote, binnegoed en pensmis, ja, die hele bul moet hy uit die kamp uitvat na 'n rein plek, na die stortplek van die vetterige as en dit op 'n houtvuur verbrand. By die stortplek van die vetterige as moet dit verbrand word. “ ‘ As die hele volksvergadering van Israel onopsetlik iets verkeerds doen en die geloofsgemeenskap merk nie eers op dat hulle gedoen het wat een van die gebooie van die HERE sê nié gedoen mag word nie, is hulle skuldig.