Levitikus 6:1-7

Levitikus 6:1-7 AFR20

Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand sondig en teen die HERE oortree deurdat hy teenoor 'n volksgenoot ontken dat iets aan hom in bewaring gegee of aan hom toevertrou is, of dat hy sy volksgenoot beroof of afgepers het, of wanneer hy verlore goedere gevind het, dit ontken en vals sweer oor enige van die dinge wat mense gewoonlik doen en daardeur sondig, dan moet hy, wanneer hy op hierdie manier gesondig het en skuldig is, teruggee wat hy geroof of afgepers het of wat aan hom in bewaring gegee is of die verlore goedere wat hy gevind het of enigiets waaroor hy vals gesweer het. Hy moet die waarde daarvan ten volle betaal en 'n vyfde daarby voeg. Op die dag van sy skulderkenning moet hy dit onverwyld betaal aan wie dit toekom. “ Sy •hersteloffer vir die HERE moet hy na die priester toe neem: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee en met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer. Die priester moet vir hom versoening doen voor die HERE en hy sal vergewe word vir enige van hierdie dinge wat hy gedoen en skuldig geword het.”