LEVITIKUS 6:1-7
LEVITIKUS 6:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer iemand vir 'n ander Israeliet iets gegee het om vir hom te bêre of wanneer hy dit vir hom geleen het, en die ander Israeliet sê hy het dit nie, dan doen hy sonde en hy is ontrou aan die Here. Hy doen ook sonde wanneer hy 'n ander Israeliet se goed vir homself vat, of wanneer hy die ander Israeliet slaan en seermaak en sy goed vat, of wanneer iets van 'n ander Israeliet weggeraak het, en hy kry dit, maar hy sê nie hy het dit gekry nie. Hy sê die Here is die getuie, maar hy lieg. Wanneer iemand een van hierdie dinge doen, dan het hy sonde gedoen. Hy het sonde gedoen en hy is skuldig, hy moet die goed teruggee wat hy gevat het of wat iemand by hom gebêre het, hy moet die goed teruggee wat weggeraak het en wat hy gekry het, hy moet alles teruggee waaroor hy gelieg het en gesê het die Here is die getuie. Wanneer mense sê dat hy dit gedoen het, en hy is skuldig, dan moet hy alles teruggee en hy moet ook nog een vyfde daarby sit. Hy moet ook vir die Here 'n skuld-offer gee. Hy moet 'n gesonde skaap-ram vir die priester bring om 'n skuld-offer te wees. Die priester moet sê hoe groot die ram moet wees. Die priester moet dan vir hom versoening doen, en die Here sal hom alles vergewe wat hy verkeerd gedoen het.”
LEVITIKUS 6:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het, of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat 'n mens kan doen om hom daarmee te besondig — as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het; of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen. En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die HERE 'n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring. Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word — enigiets wat 'n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.
LEVITIKUS 6:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Dit kan gebeur dat iemand sondig en troueloos handel teen die Here deurdat hy sy volksgenoot bedrieg met iets wat in sy bewaring gegee of aan hom geleen is, of sy volksgenoot beroof of hom te kort doen. Of hy kry dalk iets wat weggeraak het, maar ontken dit en lê 'n vals eed af oor enige saak waarin 'n mens in dié opsig sou kon sondig. As hy so gesondig en hom skuldig gemaak het, moet hy teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het of wat in sy bewaring gegee was of wat weggeraak het en deur hom gevind is, of wat ook al waaroor hy 'n vals eed afgelê het. Op die dag dat sy skuld bekend word, moet hy alles terugbetaal aan die persoon aan wie dit toekom, en hy moet nog 'n vyfde bysit. As skuldoffer bring hy vir die Here 'n ram sonder liggaamsgebrek uit die kleinveetrop na die priester toe, volgens die vasgestelde waarde, en die priester doen voor die Here versoening vir die skuldige, en sy sonde word hom vergewe, hoe hy hom ook al skuldig gemaak het.”
LEVITIKUS 6:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Wanneer iemand sondig en teen die HERE oortree deurdat hy teenoor 'n volksgenoot ontken dat iets aan hom in bewaring gegee of aan hom toevertrou is, of dat hy sy volksgenoot beroof of afgepers het, of wanneer hy verlore goedere gevind het, dit ontken en vals sweer oor enige van die dinge wat mense gewoonlik doen en daardeur sondig, dan moet hy, wanneer hy op hierdie manier gesondig het en skuldig is, teruggee wat hy geroof of afgepers het of wat aan hom in bewaring gegee is of die verlore goedere wat hy gevind het of enigiets waaroor hy vals gesweer het. Hy moet die waarde daarvan ten volle betaal en 'n vyfde daarby voeg. Op die dag van sy skulderkenning moet hy dit onverwyld betaal aan wie dit toekom. “ Sy •hersteloffer vir die HERE moet hy na die priester toe neem: 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee en met die loskoopwaarde van 'n hersteloffer. Die priester moet vir hom versoening doen voor die HERE en hy sal vergewe word vir enige van hierdie dinge wat hy gedoen en skuldig geword het.”
LEVITIKUS 6:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: As 'n siel sondig en 'n oortreding teen die HERE pleeg en vir sy naaste lieg in wat aan hom oorgegee is om te bewaar, of in gemeenskap, of in iets wat met geweld weggeneem is, of sy naaste bedrieg het; of het gevind wat verlore was, en daaroor lieg en vals sweer; in al hierdie dinge wat 'n mens doen deur daarin te sondig: Dan sal dit wees, omdat hy gesondig het en skuldig is, dat hy moet teruggee wat hy met geweld weggeneem het, of wat hy bedrieglik gekry het, of wat hom oorgegee is om te bewaar, of die verlore ding wat hy gevind het. Of alles waaroor hy vals gesweer het; hy moet dit ook in die hoofsaak teruggee en nog 'n vyfde deel daarby voeg en dit gee aan hom aan wie dit toekom, op die dag van sy skuldoffer. En hy moet sy skuldoffer aan die HERE, 'n ram sonder gebrek uit die kleinvee, volgens jou skatting, as skuldoffer aan die priester bring. En die priester moet vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word vir enigiets van alles wat hy deur oortreding daarteen gedoen het.
LEVITIKUS 6:1-7 Die Boodskap (DB)
Die Here het ook nog verder vir Moses gesê: “Iemand maak ’n fout en is ontrou aan die Here wanneer hy ontken as iemand anders iets vir hom gegee het om op te pas. Hy kan ook iemand anders uitbuit en in werklikheid van hom steel. Of hy tel iets op wat iemand verloor het en steek dit weg. Of hy jok oor iets wat ’n mens gedoen het en toe oortree het. As dit dan gebeur dat hy op een van hierdie maniere oortree het en skuldig is, moet hy alles wat hy verkeerdelik gevat het, teruggee. Hy moet die persoon wat hy uitgebuit het, vergoed. Ook dit wat iemand vir hom gegee het om op te pas moet hy teruggee. So ook die ding wat iemand verloor het wat hy opgetel het. Wanneer hy op sy oortreding gewys word, moet hy vir alles waaroor hy gelieg het, weer goed maak. Hy moet dit met ’n vyfde vermeerder vir die persoon vir wie hy dit skuld. Hy moet vir sy skuld vir die Here ’n ram sonder gebrek uit sy kudde bring wat net soveel werd is as ’n offer. Daarmee sal hy sy verhouding met God herstel. Hy moet dit na die dienaar by die tent bring. Die dienaar sal daarmee sy skuld by die Here betaal. Alles wat hy verkeerd gedoen het en waardeur hy skuldig geword het, sal hom dan vergewe word.”
LEVITIKUS 6:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En die HERE het aan Moses gesê: “Sê nou maar iemand sondig teen die HERE deur valslik vir sy buurman te vertel dat iets wat aan hom toevertrou is, verlore geraak het of gesteel is. “Of sê nou maar iemand was oneerlik met iets wat in veilige bewaring vir hom gegee is, of hy het iets gevat deur dit te steel of af te pers. “Of sê nou maar iemand vind ’n verlore item en lieg daaroor, of iemand ontken iets onder eed, of hy sondig deur iets soortgelyks te doen. As iemand op so ’n manier gesondig het en skuldig is, moet hy dit wat hy deur diefstal of afpersing gevat het, teruggee. Dit geld ongeag of dit iets in veilige bewaring was, of eiendom wat aan iemand toevertrou was, of ’n verlore item wat mense as hulle eie sou opeis, of enigiets wat verkry is deur ’n vals eed af te lê. Wanneer hulle besef hulle is skuldig, moet hulle die volle bedrag plus ’n bykomende heffing van twintig persent teruggee aan die persoon wat benadeel is. Hy moet dan ’n skuldoffer vir die priester bring, wat dit dan aan die HERE sal gee. Hierdie skuldoffer moet ’n ram sonder enige liggaamsgebrek wees of die dier se waarde in silwer. “Die priester sal dan voor die HERE versoening bewerk en so sal hy vergewe word.”