Levitikus 7:11-21

Levitikus 7:11-21 AFR20

“ ‘ Dit is die voorskrifte vir 'n •maaltydoffer wat vir die HERE gebring word: As iemand dit uit dankbaarheid bring, moet hy saam met die •dankoffer ongesuurde brood aanbied: ringbrode, klam gemaak met olyfolie, platbrode, gesmeer met olyfolie, en gesifte meel, klam gemaak met olyfolie en deurgeknie. Saam met die ringbrode moet hy brood met suurdeeg gebak aanbied by sy maaltydoffer wat hy as dankoffer bring. Van elke soort brood van die offer moet hy een aanbied as 'n •wydingsgeskenk aan die HERE. Dit is bedoel vir die priester wat die bloed van die maaltydoffer sprinkel; dit kom hom toe. Die vleis van sy maaltydoffer wat iemand uit dankbaarheid bring, moet op die dag van sy offer geëet word. Niks daarvan mag oorbly tot die volgende oggend nie. “ ‘As sy offergawe 'n slagoffer is, ná 'n gelofte of vrywillig, moet dit op dieselfde dag wat hy sy offer bring, geëet word. Wat daarvan oorbly tot die volgende dag, mag ook nog geëet word. Wat op die derde dag nog van die offervleis oor is, moet met vuur verbrand word. As daar wel van die vleis van die maaltydoffer op die derde dag geëet word, sal die persoon wat die offer bring, nie aanvaar word nie. Dit sal nie in sy guns tel nie. Dit is iets walgliks en die persoon wat daarvan eet, sal sy skuld moet dra. Vleis wat raak aan enigiets wat onrein is, mag nie geëet word nie. Met vuur moet dit verbrand word. “ ‘Wat die offervleis betref: Enigiemand wat rein is, mag daarvan eet. Iemand wat, terwyl hy onrein is, die vleis eet van die maaltydoffer wat aan die HERE behoort, sal van sy mense afgesny word. Wanneer iemand aan iets raak wat onrein is, of dit nou die onreinheid van 'n mens of 'n onrein dier is, of enigiets onreins wat afstootlik is, en hy eet van die vleis van die maaltydoffer wat aan die HERE behoort, sal daardie persoon van sy mense afgesny word.’ ”