Toe het hy die ram vir die •brandoffer laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny en die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die ram het hy in stukke opgesny en die kop, die stukke en die niervet verbrand. Die binnegoed en die pote het hy met water afgespoel. Moses het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
Toe het hy die tweede ram, die een vir die priesterwyding, laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny, van die bloed geneem en dit aan Aäron se regteroorlel, die duim van sy regterhand en die groottoon van sy regtervoet gesmeer. Moses het die seuns van Aäron ook laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlelle, hulle regterduime en regtergroottone gesmeer. Daarna het Moses die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Hy het die vet geneem: die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed is, asook die lob van die lewer, die twee niere met hulle vet en die regterboud. Uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor die HERE was, het hy een ongesuurde ringbrood, een ongesuurde brood wat met olyfolie klam gemaak is en een platbrood geneem en dit op die vet en die regterboud neergesit. Hy het dit alles op die handpalms van Aäron en die handpalms van sy seuns geplaas, en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Moses het dit toe uit hulle hande geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Dit was 'n wydingsoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE. Moses het die borsstuk geneem en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, soos die HERE hom beveel het.
Moses het van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron en sy klere, en ook op sy seuns wat by hom was en hulle klere, gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere, en sy seuns saam met hom en hulle klere, geheilig. Toe sê Moses vir Aäron en sy seuns: “Kook die vleis voor die ingang van die Tent van Ontmoeting. Daar moet julle dit eet saam met die brood wat in die mandjie vir die priesterwyding is, soos wat ek beveel is, ‘Aäron en sy seuns moet dit eet’. Wat oorbly van die vleis en brood, moet julle met vuur verbrand. Van die ingang van die Tent van Ontmoeting mag julle sewe dae lank nie weggaan nie, tot op die dag wanneer julle priesterwyding voltooi is, want julle wyding moet sewe dae lank duur. Wat vandag gebeur het, is wat die HERE beveel het gedoen moet word om vir julle versoening te doen. Voor die ingang van die Tent van Ontmoeting moet julle sewe dae lank bly, dag en nag. Julle moet die verpligting nakom wat die HERE op julle lê, sodat julle nie sterf nie, want so is ek beveel.” Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die HERE by monde van Moses beveel het.