LEVITIKUS 8:18-36
LEVITIKUS 8:18-36 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Moses die skaap-ram nader gebring wat 'n brand-offer moes wees, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit. Toe het Moses die ram geslag en hy het die bloed rondom teen die altaar gespat. Hy het die ram in stukke gesny en hy het die kop en die stukke vleis en die vet verbrand. Hy het die binnegoed en die pote gewas en hy het dit ook verbrand. Hy het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brand-offer, 'n vuur-offer, soos die Here vir Moses gesê het. Dit ruik lekker vir die Here. Moses het die ander skaap-ram nader gebring, dit was die ram om die priesters te wy. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gesit. Moses het die ram geslag en hy het van die bloed gesmeer aan Aäron se regter-oor, sy regter-duim en sy regter-groottoon. Toe het hy die seuns van Aäron laat nader kom en hy het ook aan hulle regter-ore, regter-duime en regter-groottone bloed gesmeer. Daarna het hy die ander bloed teen die altaar gespat, hy het dit oral rondom die altaar gespat. Hy het die vet geneem, die vetstert en al die vet aan die binnegoed en ook die punt van die lewer en die twee niere en die vet wat aan die niere is en die regter-boud. Daar was ongesuurde brood in 'n mandjie by die altaar. Moses het een ongesuurde rondebrood uit die mandjie geneem, en ook een rondebrood met olyf-olie en een roosterkoek, en hy het dit by die vet en die regter-boud gesit. Toe het hy alles op Aäron en sy seuns se hande gesit en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. Toe het Moses dit by hulle geneem en hy het dit op die altaar verbrand saam met die brand-offer. Dit was 'n offer om die priesters te wy, dit was 'n vuur-offer, dit ruik lekker vir die Here. Moses het die bors van die skaap-ram geneem en hy het dit heen en weer voor die Here beweeg om 'n beweeg-offer te wees. Die bors van die ram was die deel wat Moses kon kry, soos die Here vir hom gesê het. Toe het Moses van die salf-olie geneem en van die bloed op die altaar, en hy het dit gespat op Aäron en sy seuns en op hulle klere. So het hy hulle en hulle klere gewy. Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Julle moet die vleis gaarmaak by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en julle moet dit daar eet saam met die brood wat in die mandjie is. Die Here het vir my gesê dat Aäron en sy seuns dit moet eet. Julle moet die vleis en brood wat oorbly, verbrand. Julle mag sewe dae lank nie weggaan van die ingang van die tent nie. Julle moet daar bly totdat die tyd verby is om julle te wy, want om julle te wy, hou sewe dae lank aan. Die Here het gesê ons moet hierdie dinge doen soos ons dit vandag gedoen het om vir julle versoening te doen. Julle moet sewe dae lank elke dag en nag by die ingang van die tent bly en julle moet doen wat die Here gesê het, dan sal julle nie sterf nie.” Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het om vir hulle te sê.
LEVITIKUS 8:18-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het hy die brandofferram laat aankom, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. En Moses het dit geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi. Hy het ook die ram in sy stukke verdeel, en Moses het die kop en die stukke en die vet aan die brand gesteek; maar die binnegoed en die pote het hy met water gewas, en Moses het die hele ram op die altaar aan die brand gesteek; dit was 'n brandoffer as lieflike geur, 'n vuuroffer was dit aan die HERE, soos die HERE Moses beveel het. Daarop het hy die ander ram, die wydingsram, laat aankom; en Aäron met sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. En Moses het dit geslag en van die bloed geneem en dit aan die regteroorlel van Aäron en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet gestryk. Moses het ook die seuns van Aäron laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlel en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet gestryk; daarna het Moses die orige bloed rondom teen die altaar uitgegooi. En hy het die vet geneem met die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed was, en die lap aan die lewer en die twee niere en hulle vet en die regterboud. Ook het hy uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die HERE was, een ongesuurde koek geneem en een oliebrood koek en een platkoek; en hy het dit op die stukke vet en op die regterboud neergesit en dit alles op die hande van Aäron en die hande van sy seuns gelê; en hy het dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. Daarop het Moses dit uit hulle hande geneem en dit op die altaar, bo op die brandoffer, aan die brand gesteek; 'n wydingsoffer was dit as lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. Verder het Moses die bors geneem en dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg; van die wydingsram het dit aan Moses as deel toegekom, soos die HERE Moses beveel het. Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig. Toe sê Moses vir Aäron en sy seuns: Kook die vleis by die ingang van die tent van samekoms en eet dit daar met die brood wat in die wydingsmandjie is, soos ek beveel en gesê het: Aäron en sy seuns moet dit eet. Maar wat van die vleis en die brood oorbly, moet julle met vuur verbrand. Ook mag julle sewe dae lank nie by die ingang van die tent van samekoms uitgaan nie tot op die dag dat die dae van julle wyding verby is; want sewe dae lank moet julle wyding duur. Soos vandag gedoen is, het die HERE beveel om verder te doen, om vir julle versoening te bewerk. Julle moet dan by die ingang van die tent van samekoms bly, dag en nag, sewe dae lank; en julle moet die ordening van die HERE hou, dat julle nie sterwe nie; want so is aan my bevel gegee. En Aäron en sy seuns het al die dinge gedoen wat die HERE deur die diens van Moses beveel het.
LEVITIKUS 8:18-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe is die ram vir die brandoffer nadergebring na die altaar toe. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi. Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het. Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit. Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi. Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit. Hy het 'n ongesuurde ringbrood, 'n ringbrood wat met olie geknie is, en 'n roosterkoek uitgehaal uit die mandjie met ongesuurde brood wat by die altaar gestaan het, en dit by die vet en die regterboud gesit. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit as 'n beweegoffer vir die Here aan te bied. Moses het dit toe by hulle geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Die offer waarmee die priesters gewy is, was 'n offer wat deur die Here aanvaar is. Dit was 'n vuuroffer wat vir die Here aangebied is. Moses het die bors as 'n beweegoffer vir die Here aangebied. Dit was die deel van die offerram vir die priesterwyding wat Moses, volgens die bevel van die Here, gekry het. Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, oor Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. So het Moses vir Aäron en sy seuns en hulle klere aan die Here gewy. Moses het vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat gebruik is by die priesterwyding, want die bevel aan my was: ‘Aäron en sy seuns moet dit eet.’ As daar iets oorbly van die vleis of die brood, moet dit verbrand word. Julle mag 'n week lank nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, nie voordat die sewe dae van die wydingseremonies verby is nie. Die dinge wat vandag gedoen is op bevel van die Here, was bedoel om julle sonde te versoen. Daarom moet julle 'n week lank dag en nag by die ingang van die tent van ontmoeting bly en die bevel van die Here uitvoer, anders sal julle sterwe. Dit is die bevel wat ek van die Here ontvang het.” Aäron en sy seuns het toe alles wat die Here deur Moses beveel het, gedoen.
LEVITIKUS 8:18-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het hy die ram vir die •brandoffer laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny en die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Die ram het hy in stukke opgesny en die kop, die stukke en die niervet verbrand. Die binnegoed en die pote het hy met water afgespoel. Moses het die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE, soos die HERE Moses beveel het. Toe het hy die tweede ram, die een vir die priesterwyding, laat nader kom. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. Moses het hom keelaf gesny, van die bloed geneem en dit aan Aäron se regteroorlel, die duim van sy regterhand en die groottoon van sy regtervoet gesmeer. Moses het die seuns van Aäron ook laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlelle, hulle regterduime en regtergroottone gesmeer. Daarna het Moses die bloed reg rondom teen die altaar gesprinkel. Hy het die vet geneem: die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed is, asook die lob van die lewer, die twee niere met hulle vet en die regterboud. Uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor die HERE was, het hy een ongesuurde ringbrood, een ongesuurde brood wat met olyfolie klam gemaak is en een platbrood geneem en dit op die vet en die regterboud neergesit. Hy het dit alles op die handpalms van Aäron en die handpalms van sy seuns geplaas, en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Moses het dit toe uit hulle hande geneem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand. Dit was 'n wydingsoffer vir 'n aangename geur, 'n offergawe aan die HERE. Moses het die borsstuk geneem en dit voor die HERE as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, soos die HERE hom beveel het. Moses het van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron en sy klere, en ook op sy seuns wat by hom was en hulle klere, gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere, en sy seuns saam met hom en hulle klere, geheilig. Toe sê Moses vir Aäron en sy seuns: “Kook die vleis voor die ingang van die Tent van Ontmoeting. Daar moet julle dit eet saam met die brood wat in die mandjie vir die priesterwyding is, soos wat ek beveel is, ‘Aäron en sy seuns moet dit eet’. Wat oorbly van die vleis en brood, moet julle met vuur verbrand. Van die ingang van die Tent van Ontmoeting mag julle sewe dae lank nie weggaan nie, tot op die dag wanneer julle priesterwyding voltooi is, want julle wyding moet sewe dae lank duur. Wat vandag gebeur het, is wat die HERE beveel het gedoen moet word om vir julle versoening te doen. Voor die ingang van die Tent van Ontmoeting moet julle sewe dae lank bly, dag en nag. Julle moet die verpligting nakom wat die HERE op julle lê, sodat julle nie sterf nie, want so is ek beveel.” Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die HERE by monde van Moses beveel het.
LEVITIKUS 8:18-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy het die ram vir die brandoffer gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. En hy het dit doodgemaak; en Moses het die bloed rondom op die altaar gesprinkel. En hy het die ram in stukke gesny; en Moses het die kop en die stukke en die vet verbrand. En hy het die binnegoed en die bene in water gewas; en Moses het die hele ram op die altaar verbrand; dit was 'n brandoffer vir 'n lieflike geur en 'n vuuroffer aan die HERE; soos die HERE Moses beveel het. En hy het die ander ram, die wydingsram, gebring; en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gelê. En hy het dit gedood; en Moses het van die bloed daarvan geneem en dit aan die regterpunt van Aäron se regteroor en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet gesmeer. En hy het die seuns van Aäron gebring, en Moses het van die bloed aan die punt van hulle regteroor en aan die duime van hulle regterhand en op die groottone van hulle regtervoet gegooi; en Moses het die bloed rondom op die altaar gesprinkel. En hy het die vet geneem en die boud en al die vet wat aan die binnegoed was, en die oorblyfsel bokant die lewer en die twee niere en hulle vet en die regterskouer. En uit die mandjie met ongesuurde brode wat voor die aangesig van die HERE was, het hy een ongesuurde koek en 'n koek met olie en een koek geneem en dit op die vet en op die regterskouer gesit. En hy het alles op Aäron se hande en op sy seuns se hande gelê en dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE beweeg. En Moses het dit uit hulle hande geneem en dit op die altaar op die brandoffer verbrand; dit was wydings vir 'n lieflike geur; dit is 'n vuuroffer aan die HERE. Toe neem Moses die bors en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE; want van die wydingsram was dit Moses se deel; soos die HERE Moses beveel het. En Moses het van die salfolie en van die bloed wat op die altaar was, geneem en dit op Aäron en op sy klere en op sy seuns en op sy seuns se klere saam met hom gesprinkel; en hy het Aäron en sy klere en sy seuns en sy seuns se klere saam met hom geheilig. Toe sê Moses vir Aäron en sy seuns: Kook die vleis by die ingang van die tent van samekoms, en eet dit daar saam met die brood wat in die mandjie met wydingsoffers is, soos ek beveel het deur te sê: Aäron en sy seuns moet eet Dit. En wat oorbly van die vleis en van die brood, moet julle met vuur verbrand. En julle mag nie in sewe dae by die ingang van die tent van samekoms uitgaan totdat die dae van julle wyding verby is nie; want sewe dae lank moet hy julle wy. Soos hy vandag gedoen het, so het die HERE beveel om te doen, om vir julle versoening te doen. Daarom moet julle, dag en nag, sewe dae lank by die ingang van die tent van samekoms bly en die diens van die HERE hou, dat julle nie sterwe nie; want so is my bevel gegee. En Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die HERE deur die diens van Moses beveel het.
LEVITIKUS 8:18-36 Die Boodskap (DB)
Die ram vir die brandoffer is toe nader gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op die ram se kop gelê. Moses het dit geslag en die bloed daarvan aan alle kante teen die altaar uitgegooi. Hy het die ram in stukke opgesny. Hy het die ram se kop, sy vleis en sy binnevet verbrand. Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak. Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit. Moses het dit geslag en van sy bloed gevat en daarvan aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer. Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi. Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad. Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra. Moses het dit toe weer by hulle gevat en dit bo-op die offer op die altaar gesit en alles verbrand. Dit was ’n offer om Aäron en sy seuns aan die Here op te dra, ’n offer wat met vuur verbrand word waarvan die Here baie hou. Moses het toe die stuk van die ram se bors gevat en dit ook aan die Here opgedra. Dit was die deel van die ram wat vir die aanstelling van die dienaars gebruik is, wat die Here gesê het Moses vir homself kan vat. Moses het van die olie en van die bloed wat by die altaar was, gevat en op Aäron en oor sy klere, en ook oor sy seuns en oor hulle klere gesprinkel. So het hy Aäron en sy klere en sy seuns en hulle klere aan die Here toegewy. Moses het Aäron en sy seuns toe aangesê om die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting te gaan kook en dit daar te eet saam met die brood wat uit die mandjie kom wat by hulle aanstelling gebruik is. Sy opdrag was: “Aäron en sy seuns moet dit eet. Wat van die vleis en brood oorbly, moet met vuur verbrand word. Julle mag vir die volgende sewe dae tot die tyd van julle inhuldigingsgeleentheid verby is, nie van die deur van die tent van ontmoeting af weggaan nie. Dit hou ’n volle sewe dae lank aan. Wat vandag gebeur het, is soos die Here gesê het julle aan Hom opgedra moet word. Julle moet sewe dae lank dag en nag by die ingang bly en die opdrag van die Here uitvoer, anders sal julle doodgaan. Dit is soos die Here beveel het.” Aäron en sy seuns het presies gedoen soos die Here hulle deur Moses beveel het.
LEVITIKUS 8:18-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het toe die ram as brandoffer vir die HERE gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit. Moses het die ram geslag en van die bloed gevat en dit teen die kante van die altaar gesprinkel. Daarna het hy die ram in stukke gesny en die kop, sommige van die stukke vleis en die vet op die altaar verbrand. Nadat hy die binnegoed en die pote met water gewas het, het Moses die hele ram op die altaar as ’n brandoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die HERE en baie aangenaam vir Hom. Alles is gedoen net soos die HERE vir Moses beveel het. Moses het toe ’n tweede ram gebring. Dit was die ram vir die wyding van die priesters. Aäron en sy seuns het hulle hande op sy kop gesit. Moses het die ram geslag en van die bloed geneem en dit aan die oorlel van Aäron se regteroor, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer. Hy het toe ook Aäron se seuns laat naderkom en van die bloed ook aan hulle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die kante van die altaar gesprinkel. Toe het hy die vet geneem, die vet van die stert, die vet aan die binnegoed, die punt van die lewer, die twee niere met hulle vet en ook die regterboud. Hy het toe ook ’n ongesuurde brood, ’n roosterkoek van ongesuurde brood wat in olyfolie gedoop is en ’n dun broodjie wat met olyfolie gesmeer was bo-op die vet en die regterboud gesit. Al die brood is geneem uit die mandjie met ongesuurde brood wat in die teenwoordigheid van die HERE gestaan het. Hy het dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle aangesê om dit vir die HERE aan te bied deur dit na Hom uit te steek. Moses het toe die offers by hulle teruggevat en dit op die altaar bo-op die brandoffer as ’n wydingsoffer verbrand. Dit was ’n vuuroffer vir die HERE en baie aangenaam vir Hom. Moses het toe die bors geneem en dit opgelig voor die HERE in sy teenwoordigheid. Dit was Moses se deel van die ram vir die priesterwyding, net soos die HERE hom beveel het. Daarna het Moses van die salfolie en van die bloed op die altaar geneem en dit op Aäron en sy klere gesprinkel en ook oor sy seuns en hulle klere. Op dié manier het hy Aäron en sy seuns en hulle klere gewy. Toe het Moses vir Aäron en sy seuns gesê: “Kook die res van die vleis by die ingang van die tent van ontmoeting en eet dit daar saam met die brood in die mandjie wat vir die wyding van die priesters gebruik is, net soos ek jou beveel. Enige vleis of brood wat oorbly, moet verbrand word. Vir sewe dae lank mag julle nie die ingang van die tent van ontmoeting verlaat nie, want dit is hoe lank dit sal neem om die wydingseremonie te voltooi. Wat vandag gedoen is, is die bevel van die HERE sodat daar versoening vir julle kan wees. Onthou, julle moet by die ingang van die tent van ontmoeting bly vir sewe dae en sewe nagte en doen wat die HERE vra. As julle dit nie doen nie, sal julle sterf. Dit is wat die HERE sê.” Aäron en sy seuns het alles gedoen wat die HERE deur Moses beveel het.