Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Lukas 1:18-25

Lukas 1:18-25 AFR20

Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.” Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: “Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ”