Lukas 15:1-7

Lukas 15:1-7 AFR20

Al die •tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. Die •Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: “Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig •regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.”