Lukas 20:9-26

Lukas 20:9-26 AFR20

Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.” Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.” Die skrifkenners en die leierpriesters wou Hom onmiddellik gevange neem, omdat hulle besef het dat Hy die gelykenis met die oog op hulle vertel het. Hulle was egter bang vir die volk. Hulle het sake fyn dopgehou, en spioene gestuur wat voorgegee het dat hulle opreg is, sodat hulle Hom op grond van een of ander uitspraak kon vastrek en Hom sodoende aan die owerheid en die gesag van die prokurator kon oorlewer. Hulle vra Hom toe: “Meester, ons weet dat wat u sê en leer, reg is. U neem nie die aansien van persone in aanmerking nie, maar leer die weg van God waarheidsgetrou. Is dit toelaatbaar dat ons belasting aan die keiser betaal, of nie?” Maar Jesus het deur hulle listigheid gesien en vir hulle gesê: “Wys vir My 'n denarius. Wie word daarop afgebeeld, en wie se inskripsie staan daarop?” Hulle antwoord: “Die keiser s'n.” Toe sê Hy vir hulle: “Gee daarom aan die keiser wat hom toekom, en aan God wat Hom toekom.” Hulle kon Hom glad nie vastrek op grond van wat Hy voor die volk gesê het nie. Verbaas oor sy antwoord, het hulle stilgebly.