Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die •Seun van God. Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan, “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad gereedmaak. 'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” – so het Johannes gekom. Hy het in die woestyn gedoop en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig. Die hele landstreek van Judea en almal in Jerusalem het na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe , en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. Hy het gepreek en gesê: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En 'n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.
Lees Markus 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: Markus 1:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's