Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Markus 11:12-25

Markus 11:12-25 AFR20

Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor. Hulle het in Jerusalem aangekom. Jesus het toe die tempelterrein binnegegaan en die mense wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, begin uitjaag. Hy het ook die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi, en niemand toegelaat om enige voorwerp oor die tempelterrein te dra nie. Hy het hulle geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf nie, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies genoem word’? Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak.” Die leierpriesters en die skrifkenners het dit gehoor en wou Hom om die lewe bring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verwonderd was oor sy lering. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uitgegaan. Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. •Petrus het onthou – en sê vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!” Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. •Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef. ”