Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

MARKUS 11:12-25 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

MARKUS 11:12-25 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe hulle die volgende dag van Betanië af terugkom, het Jesus honger gekry. Hy sien toe op 'n afstand 'n vyeboom met blare aan en gaan daarheen om te kyk of Hy nie miskien 'n vy daaraan kry nie. Toe Hy daar kom, kry Hy niks nie, net blare, want dit was nie vyetyd nie. Hy sê toe vir die boom: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Sy dissipels het dit gehoor. Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi. En Hy het niemand toegelaat om goed oor die tempelplein te dra nie. Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.” Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het dit gehoor en het na 'n plan gesoek om Hom om die lewe te bring, want hulle was bang vir Hom, omdat al die mense deur sy leer aangegryp is. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uit weggegaan. Toe hulle die volgende môre vroeg by die vyeboom verbygaan, sien hulle dat hy tot in sy wortels verdroog is. Gedagtig aan wat Jesus gesê het, sê Petrus vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet geloof in God hê! Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see,’ en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”

MARKUS 11:12-25 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad; en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie. En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor. En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi; en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer. En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad. En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af. En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog. Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur — hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

MARKUS 11:12-25 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe hulle die volgende dag uit Betanië vertrek, het Jesus honger geword. Toe Hy in die verte ’n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan om te kyk of Hy enige vye daaraan sou kry. Maar toe Hy by die boom kom, kry Hy niks meer as blare nie omdat dit nog te vroeg in die seisoen vir vye was. Hy sê toe vir die boom: “Mag niemand ooit weer ’n vrug van jou eet nie!” Sy dissipels het gehoor wat Hy sê. Hulle kom toe in Jerusalem. Jesus het die tempelterrein binnegegaan en die handelaars en hulle kliënte begin uitjaag. Hy het die tafels van die geldwisselaars en die stalletjies van die duiweverkopers omgegooi en gekeer dat iemand ’n voorwerp oor die tempelarea ronddra. Hy onderrig hulle toe: “Staan daar nie in die Skrif geskryf nie ‘My tempel sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies’? “Maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak!” Die priesterhoofde en skrifkenners het hiervan gehoor en allerhande planne begin oorweeg om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was immers bang vir Hom en moes daarmee rekening hou dat die massa gaande was oor sy lering. Teen die aand het Jesus en sy dissipels die stad verlaat. Toe hulle die volgende oggend by die vyeboom verbygaan wat Jesus vervloek het, sien hulle dat dit tot in sy wortels verskrompel het. Petrus het onthou wat die vorige dag gebeur het, en sê vir Hom: “Leermeester, die vyeboom wat U vervloek het, het werklikwaar verdor!” Jesus het hulle toe geantwoord: “Julle moet geloof hê in God. Dit verseker Ek julle, julle kan vir hierdie berg sê: ‘Mag God jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Al wat nodig is, is dat julle regtig sal glo en nie in julle harte twyfel nie. Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou. Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teen wie julle ’n grief koester. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.”

MARKUS 11:12-25 DB (Die Boodskap)

Die volgende dag is Jesus-hulle terug Jerusalem toe. Op pad het Jesus honger geword. Hy sien toe ’n entjie van hulle af ’n vyeboom met blare aan. Hy gaan kyk toe of daar iets aan die boom is om te eet. Dit was ongelukkig nie vyetyd nie, met die gevolg dat die boom net vol blare was. “Niemand sal ooit weer van jou vrugte eet nie,” sê Jesus toe vir die boom. Sy dissipels het Hom dit hoor sê. In Jerusalem is Jesus dadelik tempel toe. Langs die tempelgebou was daar ’n groot plein. Daar was ’n muur om sodat dit as deel van die tempel beskou is. Daar was ’n hele bedrywigheid soos die mense diere gekoop en verkoop het wat nodig was vir die offers in die tempel. Daar en dan het Jesus al die besigheidsmense begin uitjaag. Daar was ook mense wat geld geruil het. Daar kon jy jou geld omruil vir die regte geld wat vir die tempelbelasting nodig was. Jesus het al hulle tafels omgekeer en die stoele van die duiweverkopers omgestamp. As iemand nog iets deur die plein wou dra om te gaan verkoop, het Jesus hom voorgekeer en uitgejaag. Jesus verduidelik toe vir hulle wat aangaan: “Staan daar nie in die Skrif nie: ‘Die bedoeling is dat al die mense in die wye wêreld My moet kom aanbid hier waar Ek woon’? Julle het dit egter die bymekaarkomplek van diewe en skelms gemaak.” Die Joodse godsdienstige leiers het daarvan gehoor. Hulle het toe planne begin beraam om Jesus uit die weg te ruim. Hulle was bang dat Jesus te gewild sou begin word, want hulle het geweet dat die mense baie beïndruk was met wat Jesus alles vir hulle vertel het. Toe dit begin donker word, is Jesus-hulle weer uit Jerusalem uit weg. Die volgende môre toe hulle weer by daardie vyeboom verbystap, sien hulle dat die vyeboom wortel en tak dood is. Petrus onthou toe wat Jesus die vorige dag gesê het: “Here, kyk! Die boom waarmee U gister so kwaai gepraat het, is dood.” Jesus sê toe: “Vertrou God vir alles. Luister nou mooi. As julle God regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir die berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring. En as jy nie wonder of dit gaan gebeur nie, maar God totaal vertrou, sal jy dit sowaar met jou eie oë sien gebeur. Daarom sê Ek vir julle: as julle van God iets vra, moet julle ook nie wonder of julle dit gaan kry nie. Julle moet so op God vertrou dat dit vir julle eintlik moet voel of julle dit al klaar gekry het, en God sal dit vir julle gee. “En wanneer julle bid, moet julle eers mooi dink of daar nie iemand is vir wie julle kwaad is of met wie julle vassit nie. Raak eers van al daardie slegte gevoelens ontslae sodat julle niks meer teen daardie persoon hou nie. Dan sal julle Vader in die hemel ook die verkeerde dinge oorsien wat julle doen.”

MARKUS 11:12-25 ABA (Bybel vir almal)

Die volgende dag het Jesus en sy dissipels uit Betanië gegaan. Jesus het honger geword en Hy het 'n vyeboom gesien wat vol blare was. Die boom was ver en Hy het daarnatoe gegaan om te sien of daar iets aan die boom was om te eet. Toe Hy daar kom, sien Hy daar is niks, net blare. Dit was nie die regte tyd vir vye nie. Jesus sê toe vir die boom: “Niemand sal weer 'n vy van jou eet nie, nooit nie.” Sy dissipels het gehoor wat Hy gesê het. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gegaan. Hy het na die tempel-gronde gegaan. Daar was mense besig om goed te verkoop en te koop. Jesus het hulle uitgejaag. Hy het die tafels omgegooi van die mense wat die geld omgeruil het en ook die stoele van die mense wat duiwe verkoop het. Hy het gesê niemand mag iets dra oor die tempel-gronde nie. Jesus het begin om vir die mense te leer en Hy het gesê in die Ou Testament is geskryf: “God het gesê: Die mense sal sê my tempel is 'n plek waar al die volke mag bid. Maar julle het dit verander, dit is nou 'n plek waar diewe bymekaarkom.” Die priesterleiers en die skrifgeleerdes het gehoor wat gebeur het. Hulle wou 'n plan maak om Jesus dood te maak. Maar hulle was bang vir Hom, want die mense het baie gehou van wat Jesus vir hulle geleer het. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels weer uit die stad gegaan. Jesus en sy dissipels het vroeg in die oggend by die vyeboom verbygeloop. Hulle sien toe die hele boom het doodgegaan, ook sy wortels. Petrus het onthou wat Jesus vir die boom gesê het en hy het vir Jesus gesê: “Meneer, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is heeltemal dood.” Jesus het geantwoord: “Julle moet in God glo! Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en gooi jouself in die see,’ dan sal dit gebeur. Maar hy moenie twyfel nie. Hy moet glo dat dit sal gebeur. Daarom sê Ek vir julle: Wanneer julle bid en julle vra iets, dan moet julle glo dat julle dit ontvang het, en dan sal julle dit kry. En wanneer julle staan om te bid, en julle is kwaad vir iemand, dan moet julle hom vergewe. Dan sal julle Vader wat in die hemel is, ook julle sondes vergewe.”

MARKUS 11:12-25 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor. Hulle het in Jerusalem aangekom. Jesus het toe die tempelterrein binnegegaan en die mense wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, begin uitjaag. Hy het ook die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi, en niemand toegelaat om enige voorwerp oor die tempelterrein te dra nie. Hy het hulle geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf nie, “ ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies genoem word’? Maar julle het daarvan 'n rowerspelonk gemaak.” Die leierpriesters en die skrifkenners het dit gehoor en wou Hom om die lewe bring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verwonderd was oor sy lering. Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uitgegaan. Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. •Petrus het onthou – en sê vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!” Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. •Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef. ”

MARKUS 11:12-25 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die volgende dag, toe hulle van Betanië af gekom het, was Hy honger. En toe hy 'n vyeboom van ver af sien met blare, het hy gekom, as hy dalk iets daaraan kon kry; en toe hy daarby kom, het hy niks anders as blare gekry nie; want die tyd van vye was nog nie. En Jesus antwoord en sê vir hom: Niemand eet vir ewig vrug van jou hierna nie. En sy dissipels het dit gehoor. En hulle het in Jerusalem gekom, en Jesus het in die tempel ingegaan en die wat in die tempel verkoop en koop, begin uitdryf en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgekeer; En hy wou nie toelaat dat iemand enige voorwerp deur die tempel sou dra nie. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis sal vir al die nasies 'n huis van gebed genoem word nie? maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En die skrifgeleerdes en owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon vernietig, want hulle was bang vir Hom, omdat die hele volk verstom was oor sy leer. En toe dit aand geword het, het hy uit die stad gegaan. En in die môre, terwyl hulle verbygaan, sien hulle die vyeboom wat van die wortels af opgedroog is. En Petrus het dit in herinnering geroep en vir Hom gesê: Meester, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Glo in God. Want voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see; en hy sal nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur; hy sal hê wat hy ook al sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle begeer wanneer julle bid, glo dat julle dit ontvang, en julle sal dit verkry. En wanneer julle staan en bid, vergewe as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, julle ook julle oortredinge kan vergewe.