Markus 2:18-28

Markus 2:18-28 AFR20

Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!” Terwyl Hy op die Sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels in die verbygaan begin om are te pluk. Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.”