MARKUS 2:18-28
MARKUS 2:18-28 Bybel vir almal (ABA)
Johannes se dissipels en die Fariseërs was besig om te vas. Party mense kom toe en vra vir Jesus: “Johannes se dissipels vas, en die Fariseërs se dissipels vas, maar hoekom vas jou dissipels nie?” Jesus het geantwoord: “Die vriende van die bruidegom kan nie vas wanneer die bruidegom nog by hulle is nie. Nee, wanneer die bruidegom by hulle is, kan sy vriende nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom nie meer by hulle sal wees nie, en dan sal hulle vas. Niemand maak ou klere reg met 'n stuk lap wat nog nie gekrimp het nie. Wanneer iemand dit doen, dan sal die nuwe lap krimp en die ou materiaal sal ook skeur, en dan sal die skeur groter word. Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan sal die wyn die sakke laat oopbars. Dan verloor hy die wyn én die velsakke. Nee, 'n mens moet nuwe wyn in nuwe sakke gooi.” Jesus en sy dissipels het op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Terwyl hulle loop, het sy dissipels begin om koring-are te pluk. Die Fariseërs sê toe vir Jesus: “Kyk daar, hoekom doen jou dissipels iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie?” Jesus het hulle geantwoord: “ Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy probleme gehad het en toe hy en sy manne honger was? Dit was in die tyd toe Abjatar die hoëpriester was. Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Niemand mag daardie brood eet nie, net die priesters mag dit eet. Dawid het ook van die brood gegee vir die mense wat saam met hom was.” Jesus het vir die Fariseërs gesê: “God het die Sabbatdag vir die mens gemaak. Hy het nie die mens vir die Sabbatdag gemaak nie. Daarom, Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.”
MARKUS 2:18-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae. En niemand werk 'n nuwe stuk lap op 'n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom 'n erger skeur. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word. EN terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie? En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.
MARKUS 2:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog 'n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.” Eenkeer toe Jesus op 'n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”
MARKUS 2:18-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Johannes se dissipels en die •Fariseërs was besig om te vas. Hulle kom sê toe vir Hom: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” En Jesus antwoord hulle: “Die bruilofsgaste kan tog nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie? Solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word. Dan sal hulle vas, op daardie dag. Niemand werk 'n ongekrimpte stuk lap op 'n ou kledingstuk vas nie; anders skeur die nuwe stuk van die oue af, en word die skeur net groter. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die wyn die leersakke laat oopbars, en sowel die wyn as die leersakke sal tot niet gaan. Nee, nuwe wyn in nuwe leersakke!” Terwyl Hy op die Sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels in die verbygaan begin om are te pluk. Die •Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk, waarom doen hulle op die Sabbat iets wat nie toelaatbaar is nie?” Hy vra toe vir hulle: “Het julle nooit gelees wat Dawid en dié saam met hom gedoen het toe hulle in nood was en honger geword het nie? Hoe hy in die tyd toe Abjater hoëpriester was, die huis van God binnegegaan en die •vertoonbrode geëet het – waarvan niemand behalwe die priesters mag eet nie – en ook vir dié wat saam met hom was, daarvan gegee het? ” Hy het ook vir hulle gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die •Seun van die Mens Here ook van die Sabbat.”
MARKUS 2:18-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die dissipels van Johannes en van die Fariseërs het gevas, en hulle het gekom en vir Hom gesê: Waarom vas die dissipels van Johannes en die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofkinders vas terwyl die bruidegom by hulle is? solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word, en dan sal hulle in daardie dae vas. Niemand werk ook 'n stuk nuwe lap aan 'n ou kleed nie; anders neem die nuwe stuk wat dit vol gemaak het van die oue weg, en die skeur word vererger. En niemand gooi nuwe wyn in ou sakke nie; anders laat die nuwe wyn die sakke bars, en die wyn word gemors, en die sakke sal beskadig word; maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word. En dit het gebeur dat hy op die sabbatdag deur die koringlande gegaan het; en sy dissipels het onderweg begin om die are af te pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbatdag wat nie geoorloof is nie? En hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy nood gehad het en honger was, hy en die wat by hom was nie? Hoe hy in die huis van God ingegaan het in die dae van Abjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat nie geoorloof is om te eet nie, maar vir die priesters, en ook aan die wat by hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens ook Here van die sabbat.
MARKUS 2:18-28 Die Boodskap (DB)
Johannes die Doper se volgelinge en ’n ander groep streng godsdienstige Jode het daardie dag niks geëet nie, want dit was ’n godsdienstige vasdag. Van die mense vra toe vir Jesus: “Hoekom hou al die mense die godsdienstige vasdae, maar jou volgelinge steur hulle nie daaraan nie?” Jesus antwoord toe: “Laat Ek dit vergelyk met ’n bruilof. Sal die gaste net vir die eetgoed staan en kyk terwyl die fees aan die gang is en die bruidegom by hulle is? Dit sal tog nie gebeur nie. As die fees verby is en die bruidegom is weg, sal hulle miskien ophou eet. So is dit met My en my volgelinge.” Jesus verduidelik toe met ’n voorbeeld vir hulle dat dit wat Hy bring nuut en anders is. “As ’n mens ’n gat moet regmaak in ’n ou rok wat klaar gekrimp het, sal jy mos nie ’n nuwe stuk lap gebruik nie. Met die eerste was sal daardie nuwe stuk lap mos krimp en die ou rok nog erger skeur. Of laat Ek dit so stel: julle weet goed dat die leersakke waarin wyn vir ’n lang tyd gehou is, sag word en maklik skeur. Julle sal mos nie wyn wat nog moet gis in daardie sakke gooi nie. As die wyn gis, sal die gas daarvan die sagte sakke laat skeur. Al julle wyn sal dan uitloop en dan sit julle nog met stukkende sakke ook. Nee, nuwe wyn sit ’n mens in sterk, nuwe sakke.” Een sabbat het Jesus-hulle deur ’n koringland gestap. Sy dissipels het begin honger voel en pluk toe koringare af om aan te begin peusel. Die streng godsdienstige mense onder die Jode het hulle soos valke dopgehou en sê toe vir Jesus: “Wat gaan hier aan? Waarom doen jou volgelinge dinge wat hulle tog duidelik weet verkeerd is om op ’n sabbat te doen?” Jesus het rustig geantwoord: “Het julle nog nie in die Skrif gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne in die moeilikheid was en honger geword het nie? Dit was in die tyd toe Abjatar in beheer van al die priesters was. Dawid is in die blyplek van God in en het die brood geëet wat spesiaal vir God eenkant gesit is. Net die priesters is mos toegelaat om dit te eet. Boonop het Dawid vir sy manne ook daarvan gegee.” Jesus beklemtoon toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat. Daarom kan Ek sê wat op die sabbat mag gebeur en wat nie.”
MARKUS 2:18-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Johannes se dissipels en die Fariseërs het gereeld gevas. Daar kom toe mense vir Jesus vra: “Waarom vas die dissipels van Johannes en die dissipels van die Fariseërs gereeld, maar jou dissipels vas nie?” Jesus het hulle geantwoord: “Dis tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal vas terwyl die bruidegom nog saam met hulle feesvier! Hulle kan nie vas solank hulle die bruidegom by hulle het nie. Maar daar kom ’n tyd wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dán sal hulle vas. Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat skeur en die wyn sowel as die sakke sal daarmee heen wees. Nee, nuwe wyn hoort in nuwe sakke!” Een Sabbatdag, terwyl Jesus deur die koringlande geloop het, het sy dissipels so al lopende are afgepluk om te eet. Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Kyk wat doen hulle! Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.” Jesus se reaksie was: “Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy in die nood verkeer het en hy en sy mense honger was nie? Hy het tydens die hoofpriesterskap van Abjatar in die huis van God gegaan en wederregtelik van die offerbrood geëet wat vir die priesters bedoel was; en hy het ook daarvan vir sy mense gegee.” Toe sê Hy vir hulle: “Die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie. Daarom het Ek, die Seun van die Mens, seggenskap ook oor die Sabbat.”