Nahum 2

2
Val van Nineve
1 Iemand wat uitmekaar jaag,
trek teen jou op.
Bewaak die vesting,
hou die pad dop,
gord die heupe vas,
monster alle kragte!
2 Want die Here herstel die trots
van Jakob
soos wat die trots van Israel
eers was,
al het verwoesters hulle verwoes
en hulle wingerdranke vernietig.
3Sy helde se skilde is rooi;
die bekwame manne is geklee
in helderrooi;
op die strydwaens
is vlammende metaal.
Op die dag wat Hy voorberei het,
word die spiese dreigend gelig.
4Oor die vlaktes jaag
die strydwaens,
oor die ooptes storm hulle aan;
hulle lyk soos fakkels,
soos weerligstrale flits hulle verby.
5Die koning se offisiere
word opgeroep;
in gelid struikel hulle in hulle haas
om by die stadsmuur te kom.
Maar die stormram se skutdak
is reeds opgerig.
6Die sluise van die kanale
word oopgeruk,
die paleis wankel.
7Dit staan vas:
Sy gaan in ballingskap;
sy word weggelei.
Haar slavinne kla soos duiwe,
en slaan hulleself op die bors.
8Nineve was op haar dag
soos 'n dam water,
maar nou stroom dit weg!
“Bly staan! Bly staan!”
Maar niemand draai om nie.
9Plunder die silwer!
Plunder die goud!
Die voorraad is onuitputlik –
'n rykdom kosbare voorwerpe!
10 Verlatenheid, verwoesting,
woesteny!
Harte krimp ineen, knieë knak,
alle heupe sidder,
alle gesigte verbleek.
11Waar is die lêplek
van die leeuwyfies,
die vreetplek van die jong leeus,
die plek waar die leeu,
die maanhaar, rondgeloop het,
waar 'n jong leeu tuis was
sonder dat iemand
hom skrikmaak?
12 Ja, waar is die leeu
wat genoeg verskeur het
vir sy welpies,
doodgewurg het vir sy wyfies?
Hy het sy blyplekke gevul met buit,
sy lêplekke met verskeurde prooi.
13“Dis Ek teen jou, Nineve!”
is die uitspraak van die Here,
Heerser oor alle magte.
“Ek sal jou strydwaens
in rook laat opgaan;
die swaard sal jou jong leeus verteer;
wat jy gebuit het,
sal Ek van die aarde af verdelg.
Die stem van jou gesante
sal nie weer gehoor word nie.”

Tans Gekies:

Nahum 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan