Numeri 18

18
Ampswerk van priesters en Leviete
1 Die Here het vir Aäron gesê: “Jy, jou seuns en jou familie saam met jou – julle sal die gevolge dra van sonde teen die heiligdom; en jy en jou seuns saam met jou sal die gevolge dra van sonde in verband met julle priesterdiens. 2 Laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, sodat hulle by jou kan aansluit en jou kan bystaan waar jy en jou seuns saam met jou voor die tent met die Getuienis is. 3Hulle moet van jou verpligtinge nakom, en ook verpligtinge in verband met die hele •tabernakel. Maar naby voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, sodat hulle nie sterf nie – nie hulle nie, en ook nie julle nie. 4Hulle moet by jou aansluit en die verpligtinge by die Tent van Ontmoeting nakom, ja, al die werk by die tent. Maar 'n onbevoegde persoon mag nie naby julle kom nie. 5Julle moet die verpligtinge by die heiligdom en die altaar nakom, sodat die Israeliete nie weer deur 'n oordeel uit toorn getref word nie. 6Wat My betref, kyk, Ek het julle broers, die Leviete, uit die Israeliete geneem as 'n geskenk vir julle. Hulle is aan die Here afgestaan om die werk by die Tent van Ontmoeting te doen. 7Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesterdiens nakom, in alle sake by die altaar en agter die voorhangsel. Daar moet julle diens doen. As 'n geskenk met die oog op dienslewering gee Ek julle priesterskap aan julle. Maar 'n onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.”
Onderhoud van priesters en Leviete
8 Die Here het vir Aäron gesê: “Wat My betref, kyk, Ek het aan jou die verpligting in verband met my •wydingsgeskenke toevertrou. Al die •heilige gawes van die Israeliete – aan jou en aan jou seuns gee Ek dit as 'n geskenk, as 'n deel wat hulle altyd moet kry. 9 Die volgende van die •besonder heilige gawes, dit wat nie verbrand word nie, is wat jou toekom: al hulle offers – al hulle •graanoffers, al hulle •reinigingsoffers en al hulle •hersteloffers wat hulle vir My bring. Die besonder heilige gawes kom jou en jou seuns toe. 10 Op 'n besonder heilige plek moet jy dit eet. Elke manspersoon mag dit eet. Dit moet vir jou iets heiligs wees. 11 Die volgende kom jou toe: Wydingsgeskenke wat hulle gee, al die gewyde gawes van die Israeliete gee Ek aan jou en aan jou seuns en dogters wat saam met jou is, as 'n deel wat julle altyd moet kry. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet. 12 Al die beste olie, al die beste •nuwe wyn en koring – die eerste opbrengs daarvan wat hulle vir die Here gee, gee Ek vir jou. 13 Die eerste opbrengs van alles wat op hulle land is, wat hulle vir die Here bring, kom jou toe. Elkeen in jou huis wat rein is, mag daarvan eet. 14 Alles wat onder die ban is in Israel, kom jou toe. 15 Elke eersteling van die moederskoot, elke lewende wese wat vir die Here gebring word, kom jou toe, of dit nou mense of diere is. Onthou net, jy moet beslis die eersgeborenes van mense laat loskoop, en die eersgeborenes van •onrein diere mag jy laat loskoop. 16Wat die loskoop daarvan betref: Vanaf 'n maand oud moet jy laat loskoop teen die loskoopwaarde van vyf sikkel silwer volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld, wat twintig gera per sikkel is. 17Maar die eersgeborenes van beeste, skape en bokke moet jy nie laat loskoop nie; hulle is heilig. Hulle bloed moet jy teen die altaar sprinkel en hulle vet moet jy verbrand as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 18Hulle vleis kom jou toe; soos die borsstuk van die gewyde gawe en die regterboud, kom dit jou toe. 19 Al die wydingsgeskenke van heilige gawes wat die Israeliete vir die Here aanbied, gee Ek vir jou en vir jou seuns en jou dogters saam met jou as die deel wat julle altyd moet kry. Dit geld as 'n ewige verbond van sout voor die Here vir jou en jou nageslag saam met jou.”
20 Die Here het vir Aäron gesê: “In hulle land sal jy nie erf nie; 'n erfdeel sal daar nie vir jou tussen hulle wees nie. Ek is jou erfdeel, jou erfenis tussen die Israeliete. 21 En wat die Leviete betref, kyk, Ek gee al die tiendes in Israel as erfenis in ruil vir hulle dienswerk wat hulle doen, die dienswerk by die Tent van Ontmoeting. 22 Die Israeliete moenie weer naby die Tent van Ontmoeting kom, om sodoende sonde op hulle te laai en te sterf nie. 23 Maar die Leviete, dit is hulle wat die dienswerk by die Tent van Ontmoeting moet doen. Hulle sal hulle skuld dra. Dit is 'n voorskrif wat altyd geld vir julle nageslag: Tussen die Israeliete mag hulle nie 'n erfenis ontvang nie; 24want die tiendes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenk vir die Here aanbied, gee Ek vir die Leviete as erfenis. Daarom het Ek vir hulle gesê hulle sal nie 'n erfenis tussen die Israeliete ontvang nie.”
25Die Here het verder met Moses gepraat en gesê: 26“ Jy moet met die Leviete praat. Sê vir hulle, ‘Wanneer julle van die Israeliete die tiende ontvang wat Ek vir julle van hulle kant as julle erfenis gegee het, moet julle daarvan 'n wydingsgeskenk vir die Here aanbied – 'n tiende van die tiende. 27Julle wydingsgeskenk sal vir julle gereken word soos die koring van die dorsvloer en soos die volle opbrengs van die parskuip. 28So moet ook julle 'n wydingsgeskenk vir die Here aanbied uit al julle tiendes wat julle van die Israeliete ontvang. Julle moet daarvan aan die priester Aäron gee, as 'n wydingsgeskenk vir die Here. 29Uit al julle geskenke moet julle die volle wydingsgeskenk vir die Here aanbied, uit al die beste geskenke 'n deel daarvan as sy heilige gawe.’
30“Jy moet ook vir hulle sê, ‘As julle die beste daarvan aanbied, dan word dit vir die Leviete gereken as die opbrengs van 'n dorsvloer en die opbrengs van 'n parskuip. 31 Julle en julle gesinne mag dit op enige plek eet, want dit is vir julle 'n beloning in ruil vir julle dienswerk by die Tent van Ontmoeting. 32 Julle sal nie sonde op julle laai wanneer julle die beste daarvan aanbied nie. Maar die heilige gawes van die Israeliete mag julle nie ontheilig nie, anders sterf julle.’ ”

Tans Gekies:

Numeri 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan