Numeri 9

9
Viering van die Pasga in die woestyn
1Die Here het in die eerste maand van die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland weggetrek het, met Moses in die Sinaiwoestyn gepraat en gesê: 2 “Die Israeliete moet die Pasga op die vasgestelde tyd vier. 3 Julle moet dit teen laatmiddag op die veertiende dag van hierdie maand op die vasgestelde tyd vier. Volgens al die vaste voorskrifte en bepalings moet julle dit vier.”
4Moses het die Israeliete toe aangesê om die Pasga te vier. 5Hulle het die Pasga op die veertiende dag van die eerste maand teen laatmiddag in die Sinaiwoestyn gevier. Soos wat die Here Moses beveel het, net so het die Israeliete gemaak.
6 Daar was egter manne wat onrein geword het as gevolg van 'n lyk. Hulle kon nie die Pasga op daardie dag vier nie, en het Moses en Aäron nog dieselfde dag genader. 7Daardie manne het vir hom gesê: “Ons is onrein as gevolg van 'n lyk. Waarom word ons teruggehou, sodat ons nie saam met die Israeliete op die vasgestelde tyd 'n offer aan die Here kan bring nie?” 8 Moses het vir hulle gesê: “Wag eers dat ek kan hoor wat die Here in verband met julle beveel.”
9Die Here het toe met Moses gepraat en gesê: 10“Praat met die Israeliete en sê, ‘Wanneer enigiemand van julle of julle nageslagte onrein word as gevolg van 'n lyk, of as hy ver op reis is, mag hy die Pasga vir die Here vier. 11 In die tweede maand op die veertiende dag teen laatmiddag moet hulle dit vier. Met ongesuurde brood en bitter kruie moet hulle dit eet. 12Hulle mag niks daarvan laat oorbly tot die volgende oggend nie. Geen been daarvan mag hulle breek nie. Volgens al die vaste voorskrifte vir die Pasga moet hulle dit vier. 13 Iemand wat egter rein is, nie op reis is nie, en nalaat om die Pasga te vier – daardie persoon sal van sy mense afgesny word, omdat hy die offer van die Here nie op die vasgestelde tyd gebring het nie. Sy sonde sal hy moet dra.
14 “ ‘As 'n •vreemdeling by julle tydelike verblyf het, en hy vier die Pasga vir die Here, moet hy dit presies volgens die vaste voorskrifte vir die Pasga en die bepalings daarvan doen. Een en dieselfde vaste voorskrif geld vir julle, vir die vreemdeling sowel as die landsburger.’ ”
God se teenwoordigheid by die tabernakel
15 Die dag toe die •tabernakel opgerig is, het 'n wolk die tabernakel, die tent met die Getuienis, oordek. In die aand was dit bo die tabernakel asof met die glans van vuur, tot die volgende oggend. 16So was dit deurentyd: Die wolk bedek dit, en snags is daar die glans van vuur, 17 maar sodra die wolk bo die tent opgaan, breek die Israeliete dadelik kamp op. En op die plek waar die wolk vertoef, daar slaan die Israeliete kamp op. 18 Op bevel van die Here het die Israeliete telkens kamp opgebreek, en op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan. Solank as wat die wolk bo die tabernakel vertoef het, het hulle gekamp. 19Wanneer die wolk 'n lang tyd bo die tabernakel was, het die Israeliete die verpligtinge teenoor die Here nagekom en nie kamp opgebreek nie. 20Soms was die wolk maar net 'n paar dae bo die tabernakel. Op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan, en op bevel van die Here het hulle kamp opgebreek. 21Soms was die wolk net van die aand tot die volgende oggend daar, en wanneer die wolk dan in die oggend opgaan, het hulle verder getrek. Of dit bedags was of snags, wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. 22Of dit nou twee dae, 'n maand, of langer was, terwyl die wolk lank bo die tabernakel vertoef het, het die Israeliete gekamp en nie verder getrek nie. Maar wanneer die wolk opgaan, het hulle verder getrek. 23 Op bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan en op bevel van die Here het hulle kamp opgebreek. Die verpligtinge teenoor die Here het hulle nagekom op bevel van die Here by monde van Moses.

Tans Gekies:

Numeri 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan