Spreuke 4:1-19

Spreuke 4:1-19 AFR20

Seuns, luister na die vermaning van 'n vader, en slaan ag daarop om insig te leer ken. Want dit is goeie onderrig wat ek julle gee; my onderwysing – moet dit nie verontagsaam nie. Toe ek 'n seun was by my vader, onervare, en die enigste voor my moeder, het hy my geleer en vir my gesê: “Jou hart moet my woorde vashou. Kom my gebooie na, dan sal jy leef. Verwerf wysheid, verwerf insig, vergeet dit nie; wyk nie af van die woorde uit my mond nie. Moet haar, die wysheid, nie verontagsaam nie; dan sal sy jou beskerm. Wees lief vir haar, dan sal sy jou bewaak. Die begin van wysheid is: Verwerf wysheid, verwerf insig met alles wat jy besit! Stel haar hoog op prys, dan sal sy jou verhoog; sy sal aan jou eer gee as jy haar omarm. Sy sal op jou kop 'n swierige krans sit, 'n sierlike kroon aan jou skenk. “ Luister, my seun, en aanvaar my woorde sodat jou lewensjare baie kan wees. Op die pad van wysheid sal ek jou begelei, ek sal jou laat loop op reguit paaie. Wanneer jy loop, sal jou voetstappe nie belemmer word nie; en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Hou vas aan vermaning, moet dit nie laat vaar nie; hou daarby, want dit is jou lewe. Op die pad van goddeloses moet jy nie kom nie; en moenie die weg van slegte mense betree nie. Vermy dit, moet dit nie eers oorsteek nie, draai weg daarvan en gaan verby. Want hulle kan nie slaap nie, behalwe as hulle kwaad doen; hulle slaap bly weg, tensy hulle iemand tot 'n val bring. Ja, hulle eet brood van goddeloosheid, en wyn van geweld drink hulle. Die pad van regverdiges is soos die helder oggendlig – dit verhelder geleidelik tot die volle dag. Die weg van goddeloses is soos die donker – hulle weet nie waaroor hulle struikel nie.