Psalms 34

34
1Van Dawid. Toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abimeleg, dié hom weggejaag en hy toe weggegaan het.
א ALEF
2 Ek wil die Here die hele tyd prys,
my mond is voortdurend vol van sy lof.
ב BET
3In die Here sal ek roem;
verdruktes sal dit hoor
en hulle verheug.
ג GIMEL
4Maak saam met my
die Naam van die Here groot,
ja, laat ons saam sy Naam verheerlik.
ד DALET
5Ek het die Here geraadpleeg,
en Hy het my geantwoord;
van al my verskrikkinge
het Hy my gered.
ה HE
6Verdruktes kyk op na Hom
en hulle straal;
hulle gesigte hoef nie rooi
van skaamte te wees nie.
ז ZAJIN
7Hierdie magtelose het geroep
en die Here het gehoor,
en uit al sy benoudhede
het Hy hom verlos.
ח GET
8Die •Engel van die Here
trek 'n laer rondom hulle
wat vir die Here ontsag het
en Hy red hulle.
ט TET
9 Beproef dit en ervaar:
Die Here is goed,
gelukkig is die mens
wat by Hom skuil.
י JOD
10Julle moet ontsag hê vir die Here,
julle wat aan Hom toegewy is;
want wie vir Hom ontsag het,
ly geen gebrek nie.
כ KAF
11Jong leeus kry swaar en ly honger,
maar wie die Here soek,
ly geen gebrek aan alles wat goed is nie.
ל LAMED
12Kom, kinders, luister na my,
ontsag vir die Here sal ek julle leer.
מ MEM
13 Wie is die mens wat lewe begeer,
graag jare wil hê
om die goeie te ervaar?
נ NUN
14 Weerhou jou tong van kwaad
en jou lippe daarvan
om bedrieglik te praat.
ס SAMEK
15Vermy die kwaad, en doen die goeie;
soek vrede, en jaag dit na.
ע AJIN
16 Die oë van die Here
is op die regverdiges,
sy ore op hulle hulpgeroep.
פ PE
17Die gesig van die Here
is gerig teen kwaaddoeners
om hulle gedagtenis uit te roei
van die aarde af.
צ TSADE
18Regverdiges roep om hulp
en die Here luister,
uit al hulle benoudhede red Hy hulle.
ק KOF
19Die Here is na aan hulle
wat gebroke harte het;
wie se gees verpletter is, verlos Hy.
ר RESJ
20 'n Regverdige ervaar baie teenspoed,
maar uit dit alles red die Here hom.
שׁ SJIN
21Hy beskerm al sy bene;
nie een van hulle word gebreek nie.
ת TAW
22Boosheid veroorsaak
'n goddelose se dood
en hulle wat 'n regverdige haat,
sal daarvoor boet;
23die Here red die lewens
van sy diensknegte
en niemand wat by Hom skuil,
sal boet nie.

Tans Gekies:

Psalms 34: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan